Ná byna vier jaar het Vodacom nou 'n goeie kans om 'n 30%-belang in Vumatel en Dark Fibre Africa, tot op hede mededingers met die verskaffing van draadlose en optiesevesel-internet, te bekom.
Vumatel en Dark Fibre Africa behoort aan Maziv, 'n volfiliaal van Community Investment Ventures Holdings (CIVH), waarin die beleggingsbeheerfirma Remgro 'n belang van 57% besit. Johann Rupert, voorsitter van die luuksegoederegroep Richemont, is ook die voorsitter van Remgro.
Die Mededingingskommissie en Vodacom het in afsonderlike verklarings bekend gemaak die voorgestelde voorwaardes vir die verkryging is uitgebrei. Dit beteken dat die Mededingingskommissie nie meer die verkryging sal teenstaan wanneer die saak op 22 Julie in die mededingingsappèlhof aangehoor word nie.
Die verkryging is reeds in November 2021 voorgestel, maar die Mededingingskommissie het van meet af aan beswaar gemaak dat mededinging met die verskaffing van internet verminder gaan word.
Die ommekeer kom nadat Vodacom en Maziv nóg meer kapitaal belowe het om 5G- en optiesevesel-internet op die platteland uit te brei. Hoewel die bedrag nie bekend gemaak word nie, het Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, verlede jaar sy frustrasie uitgespreek dat die R10 miljard waartoe Vodacom hom vir die uitbreiding van infrastruktuur verbind het, nie as genoeg beskou is nie.
Ander uitgebreide voorwaardes is die belofte om goedkoper pakkette vir breëbandinternet in die mark te handhaaf, meer geld vir ondernemingsontwikkeling beskikbaar te stel, asook meer aandele wat aan werknemers uitgereik word. Meer polisiekantore gaan gratis internet kry en gratis internet vir biblioteke en klinieke word ook uitgebrei.





















