Kunsmatige-intelligensie (KI)-"agente" wat vir hulself kan dink, is besig om baie vinnig te ontwikkel.
Baie vooraanstaande KI-ontwikkelaars in Amerika jaag al maande lank om gesofistikeerde KI-agente te ontwikkel wat meer komplekse take namens gebruikers kan uitvoer.
'n KI-agent is 'n meer gevorderde weergawe van 'n kletsbot en kan as 'n digitale werknemer funksioneer, take onafhanklik en met minimale opdragte uitvoer.
Nou beweer 'n Chinese beginneronderneming dat hy almal voorgespring het.
Manus is 'n KI-agent wat begin Maart aan 'n klein groep gebruikers bekend gestel is. Dit klop OpenAI se Deep Research-maatstaf vir KI-assistente, berig Reuters.
In 'n voorskou was Manus in staat om curriculum vitae na te gaan, reisroetes te skep en aandeelpryse te ontleed.
Terwyl sommige KI-agente 'n sekere hoeveelheid toesig vereis, sê Yichao JI, medestigter en hoofwetenskaplike, die produk is "werklik outonoom", berig Bloomberg.
Beperkte gebruikers
Manus AI het kantore in Beijing en Wuhan, en is 'n filiaal van die tegnologiemaatskappy Beijing Butterfly Effect Technology. Die produk is bemark deur tientalle take gratis vir gebruikers op X te voltooi.
'n Slim video-demonstrasie van die produk het vinnig op sosiale media versprei, wat 'n geskarrel vir toegang gelei het.
Gebruikers kan tans slegs Manus op uitnodiging gebruik.
KI-kompetisie
Die ontwikkeling van die KI-agent kom te midde van 'n aanslag op Amerika se oorheersing van dié bedryf.
Einde Januarie het die Chinese KI-kletsbot DeepSeek opslae in die bedryf gemaak omdat dit goedkoper en vinniger as ander KI-modelle ontwikkel is.
LEES OOK | Wat jy moet weet oor DeepSeek, die nuwe KI wat opslae maak
Maar anders as met DeepSeek, is die aanvanklike reaksie van Manus-gebruikers gemeng.
Prof. Derya Unutmaz van die Amerikaanse Jackson-laboratorium wat kankerimmunoterapie navors, het die instrument geloof vir "uitkomste van goeie gehalte", al neem dit langer as OpenAI se Deep Research om die take te verwerk.
Ander kla dat die diens te stadig is en soms ineenstort voordat take voltooi word, waarskynlik weens die maatskappy se beperkte rekenaarhulpbronne.
Sommige gebruikers het ook gevind dat dit feitelike foute maak.

"Manus is eintlik 'n halfklaar produk," sê prof. Yiran Chen, professor in elektriese en rekenaaringenieurswese aan die Duke-Universiteit wat die diens beproef het.
Die onderneming hoop waarskynlik deur eerste te wees sal hy beleggers kan lok, al is die produk nog nie ten volle ontwikkel nie, sê Chen.
Die onderneming het ook reeds op X gesê sy webwerf sukkel met toenemend foutiewe werking.
Bietjie meer oor KI
KI-agente het die vermoë om onafhanklik besluite te neem en uit te voer, het toegang tot meer sensitiewe data en het groter verantwoordelikhede.
Dis ook 'n stap nader aan kunsmatige superintelligensie, waar KI slimmer as mense is.
Prof. Basie von Solms, navorsingsprofessor aan die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kuberveiligheid, het in Februarie by DeepSeek se ontwikkeling aan Netwerk24 gesê dis 'n "groot deurbraak" vir KI, maar hy is nie "baie positief" oor die toekoms van KI nie.
"Die tegnologie word nie tot voordeel van mense gemaak nie."
Die ontwikkelaars van KI in China, Amerika, Engeland en meer gee nie om oor die veiligheid van die stelsels wat hulle ontwikkel nie, maar eerder die geld.
- stefani.terblanche@media24.com





















