Die sagtewarereus Microsoft mik om in sy boekjaar tot einde Junie $80 miljard te bestee aan die bou van nuwe datasentrums.
Dit is veral om sy verwerkingskapasiteit te verhoog om te voldoen aan die groter vereistes en vraag na kunsmatige intelligensie (KI).
Meer as die helfte van die besteding sal in Amerika wees, het Brad Smith, president van Microsoft, die naweek in 'n blog-plasing geskryf.
Grootskaalse beleggings in infrastruktuur dien as die noodsaaklike fondasie vir KI-innovasie en -gebruik, het Smith geskryf.
Verskaffers van wolkdienste soos Microsoft en Amazon.com is in 'n jaagtog om hul verwerkingskapasiteit uit te brei deur nuwe datasentrums te bou.
In Microsoft se vorige boekjaar tot einde Junie 2024 het hy meer as $50 miljard se kapitaalbesteding gehad, waarvan die oorgrote meerderheid aan die bou van bedienersentrums was, aangedryf deur die vraag na KI-dienste.
Smith het egter in sy plasing die nuwe Trump-regering gewaarsku om hom te weerhou van swaarder regulering van KI. Hy meen Amerika se beleidsprioriteit vir dié sektor moet wees dat die Amerikaanse private sektor toegelaat moet word om vooruitgang te maak.
Die land het 'n "pragmatiese uitvoerbeheerbeleid nodig wat sterk veiligheidsbeskerming vir KI-komponente in vertroude datasentrums balanseer met die vermoë van Amerikaanse maatskappye om vinnig te kan uitbrei en 'n betroubare voorraadbron te wees vir die talle lande wat Amerika goedgesind is".
Heelwat van die besteding aan datasentra word uitgegee op kragtige mikroskyfies van maatskappye soos Nvidia en infrastruktuurverskaffers soos Dell Technologies.
Die reusagtige bedienerplase het ook baie elektrisiteit nodig, wat Microsoft genoop het om 'n ooreenkoms te beklink vir die heropening van 'n kernreaktor by die Three Mile Island-kernkragstasie in Pennsilvanië. Dit is waar daar in 1979 'n kernramp plaasgevind het.
Amazon en Google het ook al ooreenkomste vir die aankoop van elektrisiteit van kernkragstasies aangegaan. - Bloomberg





















