Ontmoet vir Rob: Naspers stel ’n KI-robot bekend

’n Skermgreep van die klein menslike robotjie Rob, wat as ’n kunsmatige intelligensie (KI)-werknemer van Prosus beskryf word. Rob is deur Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van die groep, verhoog toe genooi. Op die agtergrond sit Koos Bekker, voorsitter, en Lynelle Bagwandeen, maatskappysekretaris.
’n Skermgreep van die klein menslike robotjie Rob, wat as ’n kunsmatige intelligensie (KI)-werknemer van Prosus beskryf word. Rob is deur Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van die groep, verhoog toe genooi. Op die agtergrond sit Koos Bekker, voorsitter, en Lynelle Bagwandeen, maatskappysekretaris. (Foto: Skermgreep)

“Ek wil julle voorstel aan Rob. Sê hallo aan almal.”

Die 110-jarige media- en tegnologiemaatskappy Naspers het Donderdag op sy jaarvergadering ’n robot (nie ’n verkeerslig nie) aan beleggers voorgestel.

Rob is na die verhoog geroep deur Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van die groep.

“Ek wil een van ons nuwe personeellede uitnooi hierheen. Hy is nog ’n intern, nog nie baie slim nie.”

Die robot, klein soos ’n kind, het na die verhoog gestap, omgedraai en op Bloisi se aanmoediging – “sê hallo aan almal, moenie onbeskof wees nie” – vir die gehoor gewaai. Hy het ’n platskerm-gesiggie wat in blou omraam is en vat Bloisi by die middellyf.

Agente neem vinnig toe

“Hy is baie vriendelik en beleef,” beskryf Bloisi hom.

Bloisi het verwys na die laaste paar maande se verwikkeling in kunsmatige intelligensie (KI) van die skepping van “agente”.

Prosus se interne KI, Toqan, verduidelik agente só: “ ’n KI-agent is ’n outonome sagtewarestelsel wat sy omgewing deur sensors of data-insette kan waarneem; besluite kan neem op grond van dié inligting; stappe kan doen om spesifieke doelwitte te bereik en onafhanklik kan werk met verskillende grade van werklike mense se toesig.”

Bloisi sê agente is in staat om baie hoë groei in produktiwiteit te skep. Die agente help personeel vinniger werk. Die aantal agente het die afgelope twee tot drie maande van 1 300 tot 3 000 gegroei.

Van die agente wat as “KI-werknemers” beskou word, is daar 1 600. “Dit is soveel mense wat die werk vinniger doen vir werklike personeel.”

Volgens hom word Rob tans aan Toqan gekoppel.

“Ons bestee ons tyd daaraan om te dink hoe ons Rob kan leer om al ons inligting te lees.”

Hy wou gehad het dat Rob vrae op die jaarvergadering beantwoord, maar die span het nie gedink hy is al daarvoor gereed nie.

“Maar ek kan julle belowe op die volgende jaarvergadering gaan Rob daar saam met my wees met al die data van Prosus en hy sal dit beantwoord omdat hy met Toqan geïntegreer gaan wees.”

KI-perde in resies

Voor Bloisi het Koos Bekker, voorsitter van Naspers, die vergadering geopen.

Hy het verwys na Naspers se KI-perde in die “resies wat nog skaars begin het”.

“Daar is twee groot tendense wat almal van ons nou beïnvloed. Eerstens KI, wat ons almal se lewe verander.

“Wie die uiteindelike wenners en verloorders gaan wees, is nog onduidelik.”

Hy meen die KI-resies het nog skaars begin indien dit vergelyk word met die lewensiklus van die ontstaan en groei van die kommersiële internet.

“Ons het ’n paar perde wat hardloop.”

Gaan nie skei

Volgens Bekker is die tweede tendens ’n “nuwe soort Balkanisering” van die wêreld.

Volgens Toqan is dit ’n verwysing na ’n politieke proses waar groot streke of state in kleiner dele opbreek wat dikwels vyandig is teenoor mekaar.

Bekker het verwys na die bekende Amerikaanse aktrise Gwyneth Paltrow, wat ’n paar jaar gelede die begrip “bewuste ontkoppeling” geskep het toe sy en haar man geskei het.

“Dis tans redelik onduidelik in watter mate ons redelik verstrengelde wêreld ontkoppel kan word en hoe die huidige situasie gaan uitspeel, maar ons hou van al die lande waar ons bedrywig is en sal deur dik en dun by hulle staan.”

Verdubbel dividend

Bekker sê Naspers word minder van ’n beleggingsmaatskappy as wat hy ’n bedryfsmaatskappy is.

Hy haal Henry Ford, stigter van die Ford Motor-groep, aan wat gesê het welvaart, soos geluk, is dikwels iets wat nie gekry word wanneer dit direk gesoek word, maar dit kom as ’n byproduk van ’n nuttige diens wat gelewer word.

“So wat doen Prosus en Naspers wat nuttig is? Ons vereenvoudig en verryk ons klante se lewe deur kosaflewering, aanlyn winkels en betalings.

“As gevolg van dié strewe verander ons finansiële profiel. In die verlede het ons gegroei, maar verliese gely. Nou groei ons, maar maak winste.”

Hy sê dis hoekom die direksie aan aandeelhouers voorgestel het dat die groep sy dividend verdubbel.

“Ons kan dit bekostig en ons dink ons kan dit volhou.”

LEES OOK | Prosus verdubbel sy dividend ná sterk winsgroei in e-handel

– nellie.brand@24.com

• Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

CTA