Nuwe iPhone dieselfde prys, Trump-tariewe en al

Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, Dinsdagaand op die bekendstelling van die nuwe iPhone 17. Hy hou die nuwe iPhone 17 Pro hier vas.
Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, Dinsdagaand op die bekendstelling van die nuwe iPhone 17. Hy hou die nuwe iPhone 17 Pro hier vas. (Foto: Getty)

Hoewel pres. Donald Trump se tariewe die algehele koste van slimfone verhoog, het Apple nie die pryse van sy nuutste iPhone-reeks verhoog nie.

Apple het Dinsdagaand die iPhone 17-reeks bekend gestel, met die iPhone 17 Air wat sy dunste selfoon tot nog toe is.

Dié foon het ’n raam van titaan, ’n metaal wat nie tariefvry na die VSA ingevoer word nie.

Die nuwe iPhone 17 asook die iPhone 17 Pro bestaan hoofsaaklik uit aluminium, ’n metaal wat tans aan ’n 50%-invoertarief onderhewig is.

Die meeste iPhone-modelle word in China vervaardig, wat tans onderhewig is aan ’n 30%-invoertarief.

Die dikte van die nuwe iPhone 17 Air is net 5,6 mm.
Die dikte van die nuwe iPhone 17 Air is net 5,6 mm. (Foto: Getty)

En hoewel slimfone Trump se tariewe vryspring, sê Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, dat die tariewe Apple reeds $800 miljoen in die vorige kwartaal gekos het, en moontlik ’n verdere $1 miljard in die huidige kwartaal gaan kos.

LEES OOK | Slimfone, rekenaars spring Trump se tariewe vry

Reuters berig egter dat die nuwe fone se pryse nie weens die tariewe opgestoot is nie:

• Die iPhone 17 van 256 GB begin by $799 (ongeveer R14 000), dieselfde prys as die 128 GB iPhone 16;

• Die iPhone 17 Pro begin by $1 099 (ongeveer R19 300), dieselfde as die vorige jaar se model met dieselfde stoorplek; en

• Die iPhone 17 Air val in die middel teen $999 (ongeveer R17 500).

Dié pryse is ’n aanduiding dat Apple bereid is om die tariefkoste te absorbeer om mededinging van Samsung, Google en handelsname van China af te weer.

Apple se aandeelprys het met 1,6% gedaal nadat die maatskappy sy nuwe fone bekend gestel het.

LEES OOK | Tegnologiereuse Apple en kie val oor impak van tariewe op hul invoer

Dunste foon

Die iPhone 17 Air is die dunste standaard-slimfoon wat in die afgelope dekade gemaak is, teen net 5,6 mm.

Die Samsung Galaxy S25 Edge, wat vanjaar bekend gestel is, was tot dusver die wenner op 5,8 mm.

In 2014 het Oppo die R5 van 4,85 mm bekend gestel en Vivo die X5 Max van 4,75 mm.

Die ander slimfone wat nou met dié dikte kan meeding, is toevou-slimfone wanneer hulle oopgevou is:

• Die Huawei Mate XT Ultimate se dikte is 3,6 mm wanneer dit oopgevou is;

• die Honor Magic V5 4,1 mm; en

• die Samsung Galaxy Z Fold 7 4,2 mm

Sê jou sê

Wat dink jy van die nuwe iPhone-reeks? Is dunner altyd beter? Sê jou sê in die kommentaarafdeling.

– stefani.terblanche@media24.com

• Die lys van die dunste fone is met behulp van Toqan KI opgesom. Die feite is nagegaan.

stefani terblanche en reuters

SPELETJIES VANDAG

CTA