’n Indiese burger het Donderdag in die hof verskyn nadat die Valke sowat R60 000 se nagemaakte Apple-toebehore in ’n Oos-Kaapse winkel gevind en dit gekonfiskeer het.
Dit volg op ’n klagte van Apple, wat in Kalifornië in die VSA gevestig is, waarna die Valke ondersoek ingestel het.
Luidens ’n verklaring het die tegnologiereus vermoed dat nagemaakte iPhone-produkte in ’n plaaslike winkel in die Summerstrand Village-sentrum in Gqeberha verkoop word.
Nadat die Valke ondersoek ingestel en bevestig het dat die produkte nagemaak is, het sy ondersoekspan vir ernstige handelsmisdaad op 22 Julie 60 nagemaakte iPhone-silikoonomhulsels in die beskuldigde se winkel gekonfiskeer.
Egte weergawes van die selfoonomhulsels kos gewoonlik tussen R700 en R1 400 op platforms soos Takealot of Apple se iStore in Suid-Afrika.
Die beskuldigde het gevolglik Donderdag op 60 aanklagte van oortredings van die Wet op Nagemaakte Goedere in die Gqeberha-landdroshof verskyn, waar die saak tot 4 September uitgestel is.
Lt.kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, het aan Netwerk24 gesê die saak word nog ondersoek en dat die nagemaakte omhulsels as bewysstukke gehou word.
“Die saak is te danke aan noue samewerking tussen die Valke en bedryfskundiges wat die misbruik van intellektuele eiendomsreg monitor,” sê Fumba.
“Voorlopige bevindinge dui daarop dat die produkte verpak is op ’n manier wat niksvermoedende verbruikers kan mislei. Die ondersoek kan ook die verskaffers of vervaardigers blootlê.”
Netwerk24 het die Core-groep, wat Apple-produkte in Suid-Afrika versprei, om kommentaar genader, maar het teen tyde publikasietyd nog nie terugvoering ontvang nie.
– karla.vandermerwe@media24.com
• Karla van der Merwe is ’n Netwerk24-beursjoernalis.






















