"It's glowtime."
Met 'n reeks video's van hoë gehalte wat wys hoe sy handelsmerk met 'n uitstraling van kleure geweef is, het Apple Maandag dié slagspreuk gebruik om sy nuwe iPhone 16 aan die wêreld bekend te stel.
Ondanks die feit dat daar nie ingrypende veranderinge aan sy vlagskip-produk se ontwerp aangebring is nie, probeer die maatskappy duidelik die iPhone 16 bemark as 'n slimfoon wat "van die grond af weer opgebou is".
Dit is omdat Apple meen die integrasie van sy nuwe reeks toepassings vir kunsmatige intelligensie (KI), nou gesamentlik bekend as Apple Intelligence (AI), is 'n groot mylpaal in sy geskiedenis.
Apple was voorheen versigtig om nuwe tegnologie soos KI dadelik by sy produkte te voeg. Hy is bekend daarvoor dat hy nuwe tegnologie eers deeglik toets en seker maak daar sal nie tegniese probleme opduik nie.
Volgens The Guardianhet Maandag se bekendstelling, wat by Apple se hoofkantoor in Cupertino in Kalifornië plaasgevind het, bevestig die tegnologiereus "wil die botoon voer in die aggressiewe wedloop om KI te omarm".
Die meeste van die nuwe AI-programme is reeds vroeër vanjaar op Apple se jaarlikse ontwikkelaarskonferensie onthul.
Craig Federighi, senior visepresident van sagtewareontwikkeling, het bevestig dit sal beskikbaar wees op die iPhone 15- en 16-modelle wanneer die toestelle se jongste programmatuur-opdaterings uitgereik word, berig CNBC.
Hy is veral opgewonde oor die generatiewe "emoji"-funksie, waardeur gebruikers hul eie gesigsimbole kan skep deur slegs 'n paar woorde in te voer.
Hulle hoef ook slegs sleutelwoorde in te tik om spesifieke foto's of video's op die toestel te soek.
Federighi het ook daarop gewys dat 'n "nuwe era" vir Siri, die wêreld se vernaamste virtuele assistent, aangebreek het.
Gebruikers kan Siri nou met teks oproep, vrae vra sonder om bekommerd te wees dat dit onduidelik sal wees selfs al struikel die individu oor sy of haar woorde, en Siri versoek om spesifieke besonderhede van teksboodskappe uit te lig.
Die iPhone 16 se fisieke ontwerp word deur 'n nuwe enkelknoppie vir sy kamera gekenmerk, maar verder is daar nie iets noemenswaardig in dié verband nie, berig MyBroadband.
Die nuwe iPhone kon reeds Maandag al vooraf bestel word en bestellings sal van 20 September af versend word.
In die VSA gaan die iPhone 16 en iPhone 16 Plus onderskeidelik $799 en $899 kos. Die plaaslike pryse is nog nie bekend gemaak nie; die heersende wisselkoers dui daarop dat dit tussen R14 271 en R16 057 kan wees.
Die iPhone 16 Pro se intreemodel kos $999 (R17 843) en die vlagskip iPhone 16 Pro Max s'n $1 199 (R21 415).
Die opgewondenheid oor die bekendstelling word wel gedemp deur die onsekerheid as gevolg van die Amerikaanse regering se hofgeding met Apple. Hy beweer Apple het 'n onwettige monopolie in die slimfoonmark geskep. - The Guardian, CNBC en MyBroadband





















