Sunday World en Sunday Sun is nou amptelik onder nuwe eienaarskap, dié van veteraanjoernalis John Bailey.
“My lewe en loopbaan is nog altyd gelei deur ’n sterk sin om te groei, myself uit te daag en nie toe te laat dat selfvoldaanheid insluip nie,” sê Bailey Vrydag in ’n plasing op LinkedIn.
“Om twee van die mees erkende koeranttitels in Suid-Afrika te besit, is ’n gewaagde sprong en ek het groot planne vir die toekoms van die publikasies.”
Bailey was meer as 15 jaar by eNCA, waar hy vir die afgelope vyf jaar die redakteur was. Voorheen was hy bykans 15 jaar by die SABC.
Hy sê in ’n artikel in Sunday World dat die publikasie sal voortgaan om nuus en interessante inhoud te lewer waaraan lesers gewoond is.
“Ek het ’n riskante visie vir die maatskappy. En ek sien uit daarna om dit in werking te stel en selfs meer lesers bekend te stel aan die kwaliteit van die inhoud wat deur die spanne vervaardig word.”
Eienaarskap
Fundudzi Media, wat deur sakeman David Mabilu besit word, is sedert 2019 die eienaar van Sunday World.
Dit is voorheen deur Tiso Blackstar, nou Arena Holdings, besit.
Sunday Sun was die susterskoerant van Daily Sun, wat deur Media24 besit was.
Media24 het in 2024 bekendgemaak dat dit die gedrukte uitgawes van Daily Sun gaan sluit en die publikasie word sedert vanjaar slegs aanlyn gepubliseer.
Sunday Sun is egter in 2020 heeltemal gesluit.
Media24 het verlede jaar die regte om met Sunday Sun handel te dryf aan Fundudzi Media oorhandig.
The Media Online berig Mabilu het Sunday World en Sunday Sun aan ’n konsortium genaamd Zucorizen verkoop.
‘Mail & Guardian’ onder nuwe leierskap
News24 berig intussen dat Japhet Ncube, die voormalige redakteur van The Star, nou die nuwe redakteur van Mail & Guardian is. Luke Feltham was die vorige redakteur.
Hoosain Karjieker, die uitvoerende hoof van M&G Media Limited, sê hulle is steeds op soek na nuwe beleggers ná afleggings in Mei.
Nog ’n onlangse verwikkeling in die mediabedryf is ’n besluit deur Arena Holdings om Financial Mail toe te maak en sy redaksie by Business Day te inkorporeer.
• Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.





















