Tegnuus

MTN ly 1ste verlies sedert 2016

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

MTN het vir die eerste keer sedert 2016 'n voljaarverlies gely - en boonop 'n enorme een van R11,2 miljard.

Die grootste selfoonmaatskappy op die vasteland skryf dié nabelaste verlies grootliks toe aan die vryval in die waarde van die naira in Nigerië, die voortslepende konflik in Soedan en hiperinflasie in onder meer Ghana.

Die naira het in die boekjaar tot einde Desember tot gemiddeld 1 508 naira teen die dollar verswak, teenoor die 2023-gemiddelde van 598 naira per dollar, 'n verswakking van meer as 60%.

Nigerië was ook in 2016 die rede vir MTN se verlies, van R3,1 miljard, ná 'n regulatoriese herrie oor ongeregistreerde simkaarte.

Verlede jaar was MTN se nabelaste wins R4 miljard, wat reeds 'n kommerwekkende val van die R23,9 miljard in 2022 was.

Groei in intekenare, data

Beleggers op die JSE het egter Maandag met die uitreiking van die resultate gefokus op onderliggende bedryfsprestasies, en die aandeelprys het vroegoggend met tot 3,4% gestyg.

Nigerië is MTN se tweede grootste bron van inkomste. Die inkomste uit Suid-Afrika het R52,6 miljard beloop, oftewel 28% van die groepinkomste, en uit Nigerië R41 miljard, oftewel 22%.

MTN keer 'n finale dividend van 345c per aandeel uit.

Basiese verdienste per aandeel het met meer as 100% geval tot 'n verlies van 531c. Die wesensverdienste per aandeel het met 68,9% tot 98c gedaal.

MTN se totale aantal intekenare het met 2,2% tot 290,9 miljoen toegeneem. Die groep doen in 16 lande sake. Dis 6,2 miljoen netto nuwe intekenare.

Weens die konflik in Soedan het miljoene intekenare in dié land verlore gegaan. Kragonderbrekings, brandstoftekorte en die ontwrigting van selfoonnetwerke is algemeen. MTN sê sy prioriteit bly om personeel veilig te hou.

Die getal aktiewe data-intekenare het met 7,7% tot 157,8 miljoen toegeneem.

Die getal aktiewe gebruikers van Mobile Money (MoMo) het met 0,9% tot 63,1 miljoen toegeneem.

Dataverkeer het met 32,6% tot 19 459 petagrepe toegeneem. 'n Petagreep is 'n miljoen gigagrepe (GB) of 1 000 teragrepe.

Die volume transaksies op finansiële tegnologie het met 15,3% tot 20,3 miljard toegeneem.

Ralph Mupita, uitvoerende hoof van MTN, sê die groep vorder met die mikpunt om breëbandinternet vir almal toeganklik te maak, ook op die platteland.
Ralph Mupita, uitvoerende hoof van MTN, sê die groep vorder met die mikpunt om breëbandinternet vir almal toeganklik te maak, ook op die platteland.

Stabilisering

Ralph Mupita, groeppresident en uitvoerende hoof, sê hulle is ingenome met 'n sterk onderliggende bedryfsprestasie ondanks uitdagings. In die tweede helfte van die boekjaar het belangrike makro-ekonomiese aanwysers soos inflasie en wisselkoerse in van die belangrikste markte begin stabiliseer.

Die groep se kapitaalbesteding vir die jaar was R29,9 miljard, waarvan R16,6 miljard in Suid-Afrika bestee is.

MTN se onttrekking aan Afganistan is in Februarie 2024 voltooi, waardeur die groep die Midde-Ooste heeltemal verlaat het. In Augustus en Desember is die verkoop van MTN Guinea-Bissau en MTN Guinea-Conakry voltooi.

Dienste-inkomste in die groep se grootste markte - Suid-Afrika, Nigerië en Ghana - het in konstante geldeenhede met onderskeidelik 3,1%, 35,6% en 34,3% gegroei.

Inkomste uit stemoproepe het met 0,5% toegeneem, met groei van 14,2% in Nigerië en 12,7% in Uganda. Algeheel het stemverkeer met 8,9% toegeneem. Stemverkeer in Suid-Afrika hou egter aan daal.

Die gemiddelde dataverbruik per gebruiker per maand het met 23,1% tot 10,8 GB gestyg.

Klante met slimfone het van 60,8% tot 63,9% gestyg, en al hoe meer mense beweeg weg van 2G-netwerke na 3G, 4G en 5G.

MTN Suid-Afrika

In Suid-Afrika het inkomste uit dienste met 3,1% gestyg. Steminkomste (in- en uitkomend) het met 4,6% gedaal, wat 'n verbetering is op die 12,1%-daling in 2023.

Data-inkomste was 2,9% hoër. Inkomste uit finansiële tegnologie het met 46,8% gestyg.

Mupita beklemtoon dat mededinging in die sektor baie toegeneem het.

MTN se getal intekenare het met 6,4% oftewel 2,4 miljoen tot 39,8 miljoen gegroei. MTN het byna 10 miljoen minder intekenare in Suid-Afrika as Vodacom, wat einde September 49,2 miljoen gehad het. Algeheel is MTN egter die grootste, met 290,9 miljoen intekenare wêreldwyd teenoor Vodacom se 205,6 miljoen.

MTN se kontrakkliënte het met 6,1% tot 4,3 miljoen gegroei, en voorafbetaal-kliënte met 5,5% tot 29,9 miljoen. Meer verpersoonlikte bondelaanbiedings word aangebied om vir mense meer buigsaamheid te gee. Dit het gehelp om meer mense te laat inkoop daarop.

Die gemiddelde hoeveelheid data wat voorafbetaal-kliënte gebruik, het met 9,5% tot 3,2 GB per maand gestyg, terwyl kontrakkliënte 36,6% meer data tot 'n gemiddelde van 22,5 GB per maand gebruik. Die meeste van dié data is deur vaste draadlose toegang, dus breëband wat per satelliet deur versenders (routers) in huise ontvang word.

MTN se breëbanddekking beslaan nou 98,7% van die land, deel van die groep se verbintenis om ook die platteland met vinnige internet toe te rus.

MTN is versigtig optimisties dat die onlangse verlagings in die rentekoers en laer inflasiekoers verbruikers se bestedingsvermoë sal verbeter. Trae ekonomiese groei en hoë werkloosheid bly egter remskoene.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM