Tegnuus

Naspers, Prosus verdubbel hul verdienste

Fabricio Bloisi, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Naspers en Prosus.  Foto: Prosus
Fabricio Bloisi, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Naspers en Prosus. Foto: Prosus

Nog skittersyfers vir 'n boekjaar gaan binnekort deur Naspers en Prosus uitgereik word.

Die twee filiale se verdienste en wesensverdienste per aandeel vir die boekjaar tot einde Maart gaan tussen 91% en 100% hoër wees as in die vorige boekjaar. Die persentasies is afgerond.

Die kernwesensverdienste per aandeel - wat Naspers soos baie maatskappye as die mees akkurate aanwyser van sy wins uit bedrywighede beskou - gaan tussen 57% en 67% hoër wees.

Prosus en Naspers se resultate verskil minimaal, met hoofsaaklik Media24 en Naspers Ventures wat nie deel uitmaak van Prosus se syfers nie. Prosus se primêre notering is op die Euronext-beurs in Amsterdam, Nederland.

Die handelsverklaring sit nie in veel besonderhede uiteen waarom die verdienste basies verdubbel nie en beleggers sal dus tot 23 Junie met die uitreiking van die resultate moet wag.

Dit herhaal van die sentiment wat Fabricio Bloisi, uitvoerende hoof van albei maatskappye, ook onlangs uitgespreek het.

"Die groep het voordeel getrek uit sterk bedrywighede, strategiese investerings en vennootskappe. Sowel Tencent as ons e-handelsegment het positief tot die groep se finansiële prestasie bygedra, met laasgenoemde wat sy winsteiken oorskry het.

"Vorentoe sal die groep daarop fokus om 'n leefstyl-e-handel-ekostelsel in Latyns-Amerika, Indië en Europa te bou, innovasie te versnel, en tegnologie aangedryf deur kunsmatige intelligensie in te span om volhoubare winsgewende groei aan te dryf en blywende waarde te skep."

• Netwerk24 is 'n publikasie van Media24, 'n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM