Met miljoene mense in Suid-Afrika wat daagliks honger gaan slaap, is dit skokkend dat sowat 10 miljoen ton kos jaarliks in die land vermors word.
Die Refreshi-app hoop om 'n gedeelte van die probleem op te los.
Jakob Holbak, wat oorspronklik van Denemarke is en al langer as vier jaar in Kaapstad woon, is die uitvoerende hoof en medestigter van dié app, wat in Maart in Stellenbosch bekend gestel is.
Holbak wil die probleem van voedselonsekerheid in Suid-Afrika aanpak.
Volgens Statistieke Suid-Afrika se algemene huishoudelike peiling het 5,2 miljoen huishoudings in 2023 voedselnood beleef.
Holbak het inspirasie uit Europa geput en met die idee vorendag gekom om oorskotkos wat binnekort, maar nog nie verval het nie, uit supermarkte, bakkerye en restaurante direk aan verbruikers te bemark.
Die hoofdoel is om die vermorsing van kos te verminder en terselfdertyd mense te help wat toenemend onder finansiële druk geplaas word weens stygende lewenskoste.
Hoe werk dit?
Die app bied 'n eenvoudige manier vir verbruikers om toegang tot bekostigbare kos te hê en help winkels om kos te verkoop wat andersins vermors sou word.
Vir verbruikers:
• Gebruikers laai die app af en kan sien watter bakkerye, restaurante of supermarkte in hul area deelneem.
• Die deelnemende winkels bied "verrassingspakkies" wat gebakte produkte, vars vrugte en groente en soms selfs blomme insluit.
• Die waarde van die pakkies wissel van R100 tot R200, maar verbruikers betaal slegs R40 tot R70.
• Gebruikers kan pakkies aanlyn bestel en dit word gewoonlik opgetel 30 minute voordat die winkel sluit.
• Die betaling vind aanlyn plaas en word net bevestig indien die bestelling suksesvol geplaas is.

Vir winkels:
• Deelnemende winkels kan hul oorskotkos wat die spesifieke dag of binnekort verval in die verrassingspakkies sit.
• As die kos of produkte verkoop word, help dit om vermorsing te voorkom. Indien dit nie nodig is om pakkies vir daardie dag saam te stel nie, kan hulle die pakkies kanselleer en klante wat reeds betaal het, sal hul geld terugkry.
Wat is in die pakkies?
In 'n video wat studente in samewerking met Refreshi gemaak het, het hulle 'n verrassingspakkie van Pick n Pay vir R35 gekry.
Die volgende was in die pakkie:
• 'n pakkie blomkool;
• 'n boks druiwe;
• 'n vrugteslaai;
• 'n houer groot sampioene;
• twee mango's;
• suikerertjies;
• twee sakke piesangs;
• seldery; en
• wortels.
Holbak sê hoewel die waarde van die pakkie gewoonlik sowat R150 is, staan dit winkels vry om ekstra produkte by te sit.

Nuut in SA, maar nie in die wêreld
Die idee agter Refreshi kan in soortgelyke apps in Europa gesien word.
Hierdie oplossings bied nie net 'n manier om die vermorsing van kos te verminder nie, maar dit kan ook nuwe klante na 'n restaurant of winkel lok.
"Jy gaan byvoorbeeld om jou pakkie gebakte goedere by die bakkery te gaan haal - dalk kry jy sommer 'n koffie daar. Dieselfde met die supermark, dan doen jy sommer jou inkopies daar."
Op die oomblik is verrassingspakkies van Pick n Pay, die Schoon-bakkery, Bootleggers, Republique en Motherdough in Stellenbosch op Refreshi beskikbaar.
Volgens Holbak is die plan om meer supermarkte en bakkerye deel van die projek te laat word.
Die plan is om teen April die diens na Kaapstad uit te brei met die hoop om teen die einde van die jaar in elke stad in Suid-Afrika beskikbaar te wees.
Hoewel die app tans slegs beskikbaar is in Stellenbosch, 'n dorp met baie studente, is dit nie die enigste teikenmark nie.
"Dit is ook vir jong gesinne, diegene wat omgee vir die omgewing en mense wat lief is vir kos, maar nie altyd die finansies het om lekkernye te koop nie."
- stefani.terblanche@media24.com





















