Tegnuus

Prosus-baas nou nóg meer optimisties ná sy 1ste 100 dae

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Bemarkingsfoto van die Indiese kosafleweraar Swiggy gedurende die Covid-19-pandemie toe kosaflewering skerp toegeneem het. Swiggy wil nou op van die Indiese aandelebeurse noteer.  Foto: Swiggy/Facebook
’n Bemarkingsfoto van die Indiese kosafleweraar Swiggy gedurende die Covid-19-pandemie toe kosaflewering skerp toegeneem het. Swiggy wil nou op van die Indiese aandelebeurse noteer. Foto: Swiggy/Facebook

Die e-handelgroep Prosus, deel van Naspers, mik om $400 miljoen se verdienste uit sy e-handelbedrywighede te behaal in die lopende boekjaar.

Fabricio Bloisi, nuwe uitvoerende hoof van Prosus en Naspers, sê hulle is vasbeslote om dié mikpunt te haal en dat dié pas van verbetering nie volgende jaar sal verlangsaam nie.

Die inkomstegroei uit e-handel was in die eerste helfte van die lopende boekjaar reeds sterker as in die vorige een en omtrent drie keer soveel verdienste is al in die eerste halfjaar gegenereer as in die hele vorige boekjaar.

Dit het gevolg op 'n verbetering van meer as $400 miljoen in die aangepaste verdienste voor rente en belasting wat die e-handelafdeling in die afgelope boekjaar behaal het.

Bloisi het in 'n aandeelhouersbrief ter viering van sy eerste 100 dae in die pos gesê hy is nou nog meer opgewonde oor die vooruitsigte van die groep as toe hy aangestel is.

Prosus is tans sowat $100 miljard werd. Bloisi sê hy is daarop toegespits om te kyk hoe dié waarde verdubbel kan word binne die Prosus-ekostelsel deur snelgroeiende en winsgewende ondernemings te bou en daarin te belê.

Volgens Bloisi het hy die meeste van die afgelope drie maande daaraan bestee om al die groep se ondernemings te besoek om te verstaan hoe hulle vinniger kan groei, meer winsgewend kan word en hoe daar nouer saamgewerk kan word.

Hy skryf hy is toenemend vol vertroue dat dié doelwitte gehaal kan word.

Fabricio Bloisi, nuwe uitvoerende hoof van Prosus en Naspers. Foto: Bloomberg
Fabricio Bloisi, nuwe uitvoerende hoof van Prosus en Naspers. Foto: Bloomberg

'n Nuwe bestuursmodel is ingestel en baie is in 'n kort tydperk bereik. Kunsmatige intelligensie word steeds oor al die ondernemings binne Prosus heen toegepas, met voorbeelde van hoe dit by sy kosafleweringsdiens iFood en die geklassifiseerde-advertensiegroep OLX gebruik word wat op Prosus se webblad bespreek word.

Van die ander hoogtepunte wat Bloisi uitlig in die brief is die 100 miljoen bestellings per maand wat vir die eerste keer ooit by iFood behaal is. Sy nuwe mikpunt vir dié span is om dit nou tot 200 miljoen bestellings per maand te verdubbel.

Prosus het in die tydperk die aanlyn reisagentskap Trip.com vir $1,5 miljard verkoop. Volgens Bloisi sal hulle voortgaan om hul portefeulje aktief te bestuur om meer waarde vir aandeelhouers te ontsluit.

Die aanlyn kosafleweraar Swiggy in Indië het aankondig dat hy 'n beursnotering wil doen. Prosus het veel meer beleggings in Indië en sal voortgaan om in die land te belê omdat die groep baie opgewonde oor die vooruitsigte daar is. Bloisi verwag meer van hul beleggings in Indië sal oor die komende 12 tot 18 maande 'n beursnotering doen.

'n Ooreenkoms is aangegaan om die Roemeense kosafleweringsmaatskappy Tazz aan Wolt te verkoop. Tazz het aan eMAG behoort. Volgens Bloisi is eMAG se struktuur in die tydperk meer vaartbelyn gemaak en die doelwit is om die onderneming in die lopende boekjaar na winsgewendheid te lei.

• Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM