Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) wil magte kry om 'n amptelike kennisgewing aan die gasheer van 'n webwerf te kan gee om 'n webwerf te sluit waarop swendelaars bedrywig is.
Gerhard van Deventer, afdelingshoof van wetstoepassing van die FSCA, het vroeër vandeesweek op 'n mediakonferensie gesê goeie samewerking word in dié stadium van die webgashere gekry om sulke webwerwe te sluit.
"Maar ons kyk na 'n wetswysiging wat aan ons magte gaan gee om 'n geldige, wettige kennisgewing aan 'n webwerf se gasheer te gee om die hele webwerf te sluit."
Unathi Kamlana, kommissaris van die FSCA, het aan Bloomberg gesê R200 miljoen gaan oor die volgende 18 maande bestee word om sy vermoë te verbeter om aanlyn swendelary te monitor.
Kundiges word ook gewerf om op kriptogeldeenhede te fokus om bedrog daarmee te ondersoek.
Kamlana het Woensdag op 'n mediakonferensie gesê gevorderde digitale tegnologie gaan gebruik word om misdrywe op te spoor.
"Dis veral belangrik in ag genome die groeiende golf van skelmstreke en bedrog aanlyn en die skade wat uit dié oord aangerig word."
Van Deventer sê waarskuwings oor die skelms werk nie, want die FSCA het gevind hulle bly bedrywig. "Wat ons begin doen het, is om die webwerwe te sluit en goeie samewerking word van die webgashere gekry."
Dit sluit in webwerwe waar werklike persone of ondernemings nageboots word met behulp van kunsmatige intelligensie of waar vals finansiële produkte bemark word.
Hy sê dié soort probleme is egter net 'n druppel aan die emmer omdat die groot sondes op sosiale media gepleeg word. "Die skade wat via sosiale media aangerig word, is baie groter omdat dit soveel mense bereik. Dis 'n lekker plek om te steel."
Suid-Afrika is lid van 'n internasionale instelling wat met die groot sosialemediaplatforms skakel omdat dit ook in ander lande 'n groot probleem is.
Dis in baie gevalle ongemagtigde verskaffers wat Suid-Afrikaners van buite die land teiken.
Die toename van smaakmakers wat van die skemas bemark, word ook 'n kopseer.
Of dat hul webwerwe of sosiale media gebruik word om beleggingsprodukte te bemark waarvan die gepastheid en risiko nie in ag geneem word nie.
Die belangebotsing wanneer dit betaalde inhoud is, word ook ondersoek.


















