Tegnuus

Tencent koop miljoene aandele terug

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Chinese internetreus Tencent se grootste enkele aandeelhouer is Naspers.  Foto: Reuters
Die Chinese internetreus Tencent se grootste enkele aandeelhouer is Naspers. Foto: Reuters

Die Chinese internetreus Tencent het die skerp val in sy aandeelprys Dinsdag benut om die meeste van sy eie aandele terug te koop sedert April 2006.

Dit volg op die Amerikaanse departement van verdediging se besluit om Tencent in te sluit op 'n lys van Chinese maatskappye wat kwansuis militêr bedrywig is of hulp aan die Chinese weermag verleen.

Tencent en 'n hele paar ander Chinese tegnologiemaatskappye is op die jongste lys wat jaarliks bygewerk word, maar voer aan hul insluiting is 'n fout.

Volgens Tencent, waarin Naspers via sy internasionale e-handelsfiliaal Prosus 'n belang van net minder as 25% besit, gaan hy met die Amerikaanse regering skakel om die misverstand op te klaar.

Ma Huateng, stigter en voorsitter van Tencent, sê in 'n verklaring die groep sal regstappe doen indien nodig om hom van die lys verwyder te kry. Volgens Tencent beteken insluiting in dié lys dat die Amerikaanse departement van verdediging nie met die maatskappye op die lys sake mag doen nie. Aangesien Tencent egter nie 'n Chinese militêre maatskappy is of enige bydraer tot die Chinese verdedigingsbedryf nie, glo hy sy insluiting op die lys is 'n fout.

Die groep het die skerp daling van 7,3% in sy aandeelprys Dinsdag op die Hongkongse beurs benut om 3,93 miljoen van sy aandele terug te koop - die meeste sedert April 2006, volgens data van Bloomberg.

Die aankope van $193 miljoen dui volgens ontleders ook op die dringendheid waarmee Tencent probeer optree om die reaksie van sy insluiting op die lys te probeer versag.

Tencent was nie die enigste aankoper van sy aandele nie. Beleggers in China het sowat $1,8 miljard se Tencent-aandele opgeraap, wat dit die mees verhandelde aandeel op die beurs gemaak het vir die dag.

'n Ontleder van Union Bancaire Privee sê Tencent se verklaring Dinsdag wys die maatskappy dink die Amerikaanse besluit is verkeerd en dat die markreaksie irrasioneel is, wat waarskynlik so 'n groot aandeleterugkooptransaksie regverdig. Geopolitieke risiko's is egter verhoog en sommige beleggers sal daardeur afgeskrik word.

In die oggendverhandeling Woensdag in Hongkong het Tencent se aandele verder met sowat 2% gedaal.

Naspers en Prosus se aandeelpryse op die JSE was ook Dinsdag skerp laer, met Naspers wat uiteindelik met 10% tot R3 740 geval het. Naspers is steeds 32% hoër as sy laagtepunt oor die afgelope 12 maande, maar wel 17% laer as sy hoogtepunt in Desember.

Op Sharenet word Naspers steeds met 'n koopaanbeveling gemerk. Prosus se aandeelprys was Dinsdag net meer as 8% swakker en het ook steeds 'n koopaanbeveling. Prosus is steeds 30% sterker as sy jaarlaagtepunt, maar 15% swakker as sy beste vlak wat in Oktober verlede jaar behaal is.

• Netwerk24 is deel van Media24, 'n Naspers-filiaal.

- francois.williams@24.com

Francois Williams en Bloomberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM