Tegnuus

Trump-tariewe: Slimfone, rekenaars se uitsluiting dalk van korte duur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
China het verlede jaar $8,7 miljard se halfgeleiers van die VSA af ingevoer.  Foto: Getty
China het verlede jaar $8,7 miljard se halfgeleiers van die VSA af ingevoer. Foto: Getty

Die onlangse vrystelling van slimfone en rekenaars van pres. Donald Trump se wederkerige tariewe op Chinese invoere blyk van korte duur te wees.

Trump se administrasie het reeds te kenne gegee dat hulle dit oorweeg om binne die volgende twee maande 'n spesiale elektronika-tarief op te stel, wat die koste van elektroniese toestelle vir Amerikaanse verbruikers kan opjaag.

Trump is van plan om vandeesweek die tariefkoers op ingevoerde halfgeleiers aan te kondig, berig Reuters.

"Ons wil ons skyfies, halfgeleiers en ander dinge in ons land maak," het Trump Sondag aan verslaggewers aan boord van Air Force One gesê terwyl hy na Washington teruggekeer het.

Hy het bygevoeg dat daar "buigsaamheid sal wees met sommige maatskappye in die sektor," maar geweier om te bevestig of slimfone dalk steeds vrygestel sal word.

"Jy moet 'n sekere buigsaamheid toon. Niemand moet so rigied wees nie," het hy gesê.

Spesiale elektronika-tarief

Trump het Sondag 'n nasionale veiligheidstarief-ondersoek na halfgeleiers en die hele elektroniese voorsieningsketting aangekondig.

Hierdie aankondiging kom kort nadat die Withuis Vrydag 'n lys van 20 produkkategorieë uitgereik het wat voorlopig van die wederkerige tariewe vrygestel is, insluitend rekenaars, skootrekenaars, geheueskyfies en halfgeleiertoestelle.

Howard Lutnick, Trump se minister van handel, het egter vroeër die Sondag dit duidelik gemaak dat kritieke tegnologieprodukte van China, asook halfgeleiers, binne die volgende twee maande afsonderlike nuwe belasting in die gesig sal staar.

Lutnick het gesê Trump sal binne 'n maand of twee 'n "spesiale fokus-tipe tarief" op slimfone, rekenaars en ander elektroniese produkte instel, saam met bedryfstariewe wat halfgeleiers en farmaseutiese produkte teiken.

Die nuwe heffings sal buite Trump se sogenaamde wederkerige tariewe val.

"Hy sê hulle is vrygestel van die wederkerige tariewe, maar hulle is ingesluit by die halfgeleiertariewe, wat waarskynlik oor 'n maand of twee kom," het Lutnick in 'n onderhoud op ABC se This Week gesê.

Hy voorspel dat die heffings die produksie van daardie produkte na die VSA sal bring.

Wat voer Amerika van China af in?

Die VSA het verlede jaar $525 miljard se goedere van China af ingevoer, terwyl China goedere ter waarde van $144 miljard van die VSA af ingevoer het.

Die VSA se topvyf invoerprodukte van China in 2024 was:

1. Slimfone: $47 miljard

2. Rekenaars: $41 miljard

3. Allerlei kommoditeite: $22 miljard

4. Batterye: $22 miljard

5. Motoronderdele: $11,5 miljard

Die VSA kry 40% van al die slimfone wat hulle invoer van China af, alhoewel die VSA slegs 22% van China se selfoonuitvoer uitmaak.

Verder kom 51% van die VSA se batterye en 98% van hul beligting uit China.

Wat voer China van Amerika af in?

China se topvyf invoerprodukte van die VSA in 2024 was:

1. Sojabone: $13 miljard

2. Halfgeleiers: $8,7 miljard

3. Entstowwe: $6,7 miljard

4. Natuurlike gas: $6 miljard

5. Ruolie: $6 miljard

Alhoewel die halfgeleiers die VSA se tweede grootste uitvoer na China is, beloop dit slegs 2% van China sa totale invoer van halfgeleiers.

In 2023 was halfgeleiers en komponente se invoer na China $6,8 miljard werd, volgens die VSA-China sakeraad, berig CBS.

Die masjinerie vir die vervaardiging van halfgeleiers is die sewende grootste invoer van $4 miljard, en is steeds net 9% van hul totale invoer van dié masjinerie. Dit is wel 21% van die totale tipe masjinerie wat die VSA uitvoer.

- stefani.terblanche@media24.com

Stefani Terblanche en Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM