Tegnuus

Vodacom se voorafbetaal-kliënte neem af, finansiële dienste groei

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Terwyl Vodacom se voorafbetaalde-kliëntebasis aanhou krimp, groei die kontrakbasis.  Foto: Getty
Terwyl Vodacom se voorafbetaalde-kliëntebasis aanhou krimp, groei die kontrakbasis. Foto: Getty

Terwyl Vodacom se voorafbetaal-kliënte aanhou afneem, groei hul kontrakkliënte en finansiële en digitale dienste.

Luidens 'n markverklaring vir die eerste kwartaal (einde Junie 2025) het Vodacom se voorafbetaal-kliënte ietwat afgeneem. Vodacom het nie uitgewei oor waarom dit gebeur het nie.

Vir die boekjaar tot einde Maart 2025 was die rede vir die afname omdat Vodacom onaktiewe kliënte verwyder het.

Die voorafbetaal-kliëntebasis het toe met 13,1% gedaal - en desondanks het dié inkomste met 3,5% tot R27,3 miljard gestyg.

Die afname is egter nie verbasend nie aangesien byna 80% van alle voorafbetaalde selfone wat in die land verkoop word, nou by 'n Pepkor-winkel gekoop word.

LEES OOK | 1,5 m. Suid-Afrikaners huur nou 'n slimfoon danksy Pepkor se FoneYam

Ten spyte van die afname, is daar weer eens 'n groei in kontrakkliënte en finansiële, vesel- en wolkdienste.

"Ondersteun deur bykomende datatoewysings, goeie groei in slimtoestelle en beduidende beleggings in ons netwerk, het dataverkeer met 32,7% gegroei," sê Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, in die verklaring.

Die groep se inkomste uit finansiële dienste het ook op 'n jaargrondslag met 18,1% tot R3,9 miljard gestyg en die algehele groepinkomste het met 10,6% tot R40 miljard gegroei.

Joosub sê verder Suid-Afrika het 'n "veerkragtige toename" van 3% in diensinkomste jaar op jaar gelewer. Egipte het 33,7% gelewer en Tanzanië, die Demokratiese Republiek die Kongo en Lesotho het saam 9,7% gelewer.

Vodacom het reeds R1,6 miljard in die kwartaal belê en verwag om teen die einde van die lopende boekjaar R12 miljard se kapitaalbesteding te doen.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM