Die Student

'Ag nee, Clicks! Julle is meer damaged as ons hare'

'n Lid van die EFF staan voor die deur van die Clicks in Goodwood, Kaapstad. Foto: Jaco Marais
'n Lid van die EFF staan voor die deur van die Clicks in Goodwood, Kaapstad. Foto: Jaco Marais (Jaco Marais)

"Hugo, bel die polisie!" want Clicks Suid-Afrika het pas gewys hoe min hy van mense van kleur dink."

Ek sug en wil nie eens kwaad raak nie, want ek gaan niks daarby baat nie.

Die uitbreek van die Covid-19-virus het ons almal in 'n staat van inperking en veral omdat haarsalonne 'n lang tyd gesluit was, moes mense dus self sien kom klaar met hul hare.

Ek het toe sommer besluit om natural te gaan. Nou natural beteken basies jy laat jou hare natuurlik groei, sonder om enige middels wat dit steiler of wat ook al gaan maak, soos daai relaxer, Brazilian en goed wat jou hare 'n bietjie langer of reguiter maak.

Nie dat ek van die produkte gebruik nie. Ek het gewoonlik maar my hare kort gesny, maar ook seker omdat ons so gewoond is daaraan.

William Sezoe
William Sezoe

Die stelsel dwing ons mos om altyd die een rigting in te gaan. Ons (seuns) is nooit op skool toegelaat om met lang of dik hare rond te loop nie. Jy moes dit eenvoudig net gaan sny, of jy word geskors of voor 'n komitee gedaag vir die verbreking van skoolreëls en so gaan die lys aan.

Ek onthou nog hoe sekere onderwysers seuns met lang of dik hare voor ander leerlinge beledig het oor hul hare, dat dit "lyk soos 'n mop waarmee jy vloere was". Hoe ongeskik, onsensitief en onmenslik!

Hare behoort mos nie 'n probleem te wees nie, veral nie as jy daarna kyk nie. Ek kan nie glo dat ons in die 21ste eeu steeds 'n fuss maak oor hare nie.

Nee, man, bou 'n brug en kom daaroor. Elkeen behoort mos vry te wees om te doen met sy/haar liggaam en alles wat daarmee gepaardgaan, soos hy/sy wil.

En in dié tyd dat ek nou besluit het om my hare te laat groei net soos dit wil, besluit Clicks SA om my hare as "beskadig, droog en vaal" te beskryf. Ek wil naar word!

Ek is bloot net teleurgesteld en voel ná die omstrede, agteraf, diskriminerende en afbrekende advertensie van Clicks en TRESemmé Suid-Afrika asof ek hard op albei wange geklap is. Hulle is kop in een mus en moet vir hul dade boet.

Ag nee, man, Clicks. Hoe wil jul dan nasiebou, transformeer en voortbeweeg met sulke snert?

Dis hartseer om te sien hoe daar steeds teen jou gediskrimineer word en dit nogal oor die tipe hare waarmee jy gebore is. Ag, nee sies, man. Ons is mos nou al lankal verby die dae toe jy volgens jou hare geklassifiseer word .

Ek het al by baie van my mense en veral in die geskiedenisklas gehoor hoe daar in die apartheid-era 'n kam in mense se hare gedruk is. As die kam uitgeval het, was dit steil en volgens hulle (die destydse diskriminerende en afbrekende regering) meerderwaardig. As die kam nie uitval nie, was dit kroes en minderwaardig.

Dié soort stories is hartverskeurend, want wat het jou hare te doen met hoe menswaardig jy is?

Maar wat vir my ook beduidend in die advertensie is, juis omdat foto's van vroue gebruik is, is dat daar ook teen vroue gediskrimineer word.

Daar's net geen einde aan dié soort diskriminasie nie. Vroue van kleur loop die ergste deur. Verlede jaar was bruin vroue soos 'n potjie twak beskryf vir hul intelligensievermoë in 'n studie wat deur 'n paar studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is. Dié studie is glo in die een of ander gemeenskap onder 60 bruin vroue gedoen. Galbitter en walglik, as jy my vra!

Foto: Twitter/EFFSouthAfrica
Foto: Twitter/EFFSouthAfrica

Dié keer word bruin en swart vroue weer oor dieselfde kam geskeer met "beskadigde, vaal en droë" hare, volgens Clicks en TRESemmé SA in die advertensie op Clicks se webtuiste, wat intussen verwyder is nadat die publiek beswaar gemaak het.

Ons wil hê die bemarkers en bestuur wat die advertensie goedgekeur het, moet verantwoordelik gehou word. Ons kan nie meer in 2020 kamstig "onbewus" wees oor blatante rassisme, veroordeling en diskriminasie nie. Hoe besef jy eers nadat mense beswaar maak oor die advertensie dat jy 'n fout begaan het? Verduidelik dit eers. Dalk sal ek die konteks van jul flou verskoning verstaan.

Nog iets wat vreemd is, is die feit dat hulle meen wit mense se hare is "normaal" en "oukei". Waar kom "normale hare" vandaan, en bestaan daar ooit so iets?

Ag nee, man, Clicks. Hoe wil jul dan nasiebou, transformeer en voortbeweeg met sulke snert?

Ek dink dis hoogtyd dat mense opgevoed word oor hare, want nou het dit 'n bietjie te ver gegaan. En dalk moet Clicks 'n bietjie van daardie ontsmettingsmiddels op hul winkelrakke gebruik en hul bemarkers se onsensitiewe gedrag ontsmet.

  • William Sezoe studeer onderwys aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

William Sezoe, Universiteit Stellenbosch

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM