Covid-19 het die wêreld soos 'n orkaan getref en die lewe drasties verander. Om 'n sensitiewe siel in hierdie tyd te wees, kan soms voel asof 'n trop olifante, 'n paar beeste, 'n hond, 'n kat én 'n ry eendjies oor jou geloop het!
Dis dalk nie so erg nie, maar as iemand met een van daardie komplekse, sensitiewe geaardhede, wil ek enkele van die uitdagings bespreek.
Ek kan miskien in een woord opsom hoe die 17 maande tot dusver gevoel het: Intens. Vir 'n sensitiewe mens is daar nie altyd 'n middel wanneer dit kom by dit wat jy voel of ervaar nie. Mens voel óf te veel, óf glad nie.
Dit beteken ook dat sommige sensitiewe mense 'n bietjie vreemd kan voorkom en dus nie altyd inpas nie.
Die moderne wêreld met sy ontwikkelende tegnologie en snel tempo, voel reeds oorweldigend. Dit voel asof daar 'n verwagting is dat jy soos 'n masjien sonder emosie moet funksioneer. Daar is nie noodwendig tyd of ruimte vir sensitiewe mense nie, want sensitiwiteit word beskou as 'n swakheid in ons rat race.
Die gevolg is dat jy voel asof jy agterbly. Nie inpas by hierdie masjien-mentaliteit nie.
Met die inperkings wat verslap word, leef daar steeds 'n gedeelte van hierdie masjien-mentaliteit voort.
Dit kan soms steeds voel asof jy onder buitengewone omstandighede moet jaag om by te bly. Die ontwikkeling van tegnologie beteken ons kan nou van ons huis af werk, maar dit beteken ook dat ons hierdie masjiengedrewe lewe in ons huise inbring.
Daar was darem een voordeel wat ons nog gehad het in die pre-Covid dae, en dit was dat jy in aanraking met ander gekom het.
Die uitwerking wat isolasie op 'n sensitiewe persoon kan hê, is dat hulle eensaamheid meer intens as ooit ervaar.
Vir 'n sensitiewe introvert soos ek is die gedagte van vreemde mense vreesaanjaend, maar selfs ek het nodig om ten minste een persoon per maand te sien.
Dit is egter nie net beperk tot die werksplek nie. Die uitwerking wat isolasie op 'n sensitiewe persoon kan hê, is dat hulle eensaamheid meer intens as ooit ervaar.
Die verlies aan 'n sosiale lewe, maar soms ook die verlies van vriendskappe en geliefdes, is die moeilikste aspek van hierdie pandemie.
Dit is uit die staanspoor moeilik vir party sensitiewe mense om al die kompleksiteite met die wêreld te deel wat nie noodwendig 'n mens se geaardheid verstaan nie, maar om nog in isolasie te leef of sosiale kontak te beperk, maak die gevoel van eensaamheid meer intens.

Die grootste uitdaging is miskien hoe so iemand verlies ervaar. Verlies is vir almal van ons traumaties, maar vir sensitiewe mense kan dit voel soos 'n tsoenami van emosies wat hul tref.
Dit kan 'n verlies van 'n geliefde wees, die verlies van 'n inkomste of selfs die verlies van 'n vriendskap.
Bogenoemde is maar enkele uitdagings wat 'n sensitiewe persoon in hierdie ongewone tyd kan ervaar. Daar is egter ook 'n groot voordeel wat hierdie geaardhede kan inhou vir die mense om hulle. Hulle het gewoonlik 'n fyn aanvoeling vir die ander mense om hulle se emosies. Hulle kan dus beter in staat wees om daar te wees vir ander wat ook deur trauma gaan.
Sensitiewe mense kan ook die trauma van verskeie uitdagings omskep in iets kreatief en opbouend. Die sangeres en liedjieskrywer Rosanne Cash het eenkeer gesê die grootste kunswerke kom uit die mens se diepste seer. Daarom is dit 'n goeie idee vir so iemand om te dig, te skryf, musiek te maak of net enige vorm van kuns te beoefen om uiting te gee aan wat 'n mens voel.
Dit wat die wêreld as 'n swakpunt sien, kan eintlik 'n sterkpunt wees en op die koop toe dien as inspirasie om kreatief te wees.
So kan sensitiewe mense 'n bietjie son terugbring in 'n onsekere en onvoorspelbare tyd.
- Louw Brink het sy BA honneurs in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat in 2019 voltooi. Hy werk tans as 'n skryfkonsultant by die universiteit se Unit for Language Development. Louw berei tans voor vir sy MA in filosofie.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:















