Die Student

Die Bokke het gewen, wat nou?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Heinrich Nienaber
Heinrich Nienaber

Ons land se naam is in goud ingeëts, die oorwinningsgevoel het vir 'n vierde keer ingesink, die Bokke se trofeetoer is verby (die enigste party wat nie sy kant gebring het nie, is die trofeebus se brieke . . .) so hoe nou gemaak?

Ons spelers het almal teruggekeer na hul onderskeie klubs en provinsiale spanne, en dit moet vir ons almal 'n voorbeeld wees: Kom ons maak soos die wêreldkampioene en keer terug na ons plaaslike spanne ná die Wêreldbekersege.

Min dinge is so spesiaal soos Suid-Afrikaanse provinsiale rugby, en wat is die verskil tussen dit en 'n Wêreldbekertoernooi in Frankryk?

Daar word provinsiale rugby gespeel op ons voorstoepe, in ons tuisdorpe. Geen internasionale rugbyraad kan die aanbieding van hierdie wedstryde by ons wegvat nie; dit sal altyd op ons voorstoepe plaasvind. Die kaartjies is aansienlik goedkoper as 'n Schengen-visum en 'n vliegkaartjie Frankryk toe. Jy kan dus vir 'n appel en 'n ei jou gunsteling-wêreldkampioene hier sien speel.

Wêreldbekers word nie deur belangrike amptenare boaan die leer gewen nie, maar deur die harde werkers onder in die stelsel, en daardie stelsel is afhanklik van ons morele en geldelike ondersteuning.

Daar is geen twyfel dat provinsiale, plaaslike, hoërskool- en laerskoolrugby en ander gemeenskapsinisiatiewe die ruggraat van Suid-Afrikaanse rugby is nie. Wêreldbekers word nie deur belangrike amptenare boaan die leer gewen nie, maar deur die harde werkers onder in die stelsel, en daardie stelsel is afhanklik van ons morele en geldelike ondersteuning.

Die laerskool- en hoërskoolafrigters, die klub-organiseerders, die stadionbestuurders, die smouse, die rugby-ouers, die waterdraers, die jong spelers en die toeskouers; al hierdie klein rolle dra by tot wat ons land 'n rugby-supermoondheid maak.

My pa het in Springs grootgeword en moes streng gesproke die Valke of Leeus ondersteun, maar het 'n Bul-ondersteuner geword toe hy Buurman van Zyl se span in lewende lywe aanskou het. Frik du Preez was onvergeetlik.

Selfs Bongi Mbonambi het uit Frik du Preez se spelboek geleen. In 'n staaltjie wat moontlik fiktief is, maar vir seker waar kan wees, is Frik in 'n wegwedstryd deur 'n Engelse skeidsregter vir vuil taalgebruik gepenaliseer nadat hy vir sy spanmaat gesê het: "Keer jy hierdie kant, ek sal daai kant keer."

Die geskiedenis, en die sage teen Bongi, het wel vir ons nogmaals geleer daar is twee kante aan 'n saak: Die Engelse kant en die waarheid.

Ek het op Loftus grootgeword en het in 2009 die Super14-eindstryd bygewoon. Ek was nege jaar oud.

Ná elke drie het ek my ouer broer gevra: "Is ons nou ver genoeg voor dat ons nie meer kan verloor nie?"

Waarop hy elke keer geantwoord het: " 'n Mens is nooit so ver voor dat jy nie meer kan verloor nie."

Die Bulle het daardie dag die Chiefs van Hamilton in Nieu Seeland met 61-17 oorrompel. Ná die sege, soos ons uitgestap het verby die snoepie langs blok O-P op die oos-pawiljoen, onthou ek my woorde: "Ek het nog altyd gedink die Bulle is die beste, maar ná vanaand wéét ek die Bulle is die beste."

'n Groot aantal van die spelers in daardie wenspan was ook in die 2007-Wêreldbeker-wenspan, asook die 2009-span wat die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewen het, en basies elke ander trofee wat deur die Bokke gewen is rondom daardie tyd.

Vandag is rugby selfs ingewikkelder, kreatiewer en mededingender as in Buurman van Zyl en Frik du Preez se dae. Vandag het ons kommentators in Engels, Afrikaans, Xhosa en Sepedi, en ikoniese spelers uit elke hoek en draai van ons land.

Daar is selfs nog meer rede om ons plaaslike stadions vol te maak: Daar is niks so intimiderend vir oorsese rugbyspelers soos om in 'n volgepakte Suid-Afrikaanse stadion uit te draf nie. Ons gees is wêreldberoemd, en in sekere kringe, berug. Ons gees is so oorweldigend dat ons Springbokke min gepla is as hulle oorsee moet speel; hulle is gewoond aan uitbundige skares en word nie daardeur ontsenu nie.

  • Heinrich is 'n akademiese medewerker in die departement van handelsreg en projekkoördineerder in die sentrum vir menseregte by die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
Heinrich Nienaber, Universiteit Van Pretoria

CTA