
Desember is om die draai en een van die dae sien ons weer die jaarlikse migrasie van studente na hul tuisdorpe (hoewel die migrasie dalk vanjaar kleiner kan wees weens dit virus). Daar staan egter 'n paar uitdagings tussen jou en daardie langverwagte bord kos van jou ma.
Die eerste hekkie is die ontruiming uit jou koshuis of woonstel as jy met 'n skok besef jou besittings het onverklaarbaar verdubbel sedert die begin van die jaar.
Nie net dit nie - ligging is ook 'n uitdaging. 'n Kamer op die derde vloer bied dalk 'n pragtige uitsig, maar ná die groot trek by die trappe op en af gaan jou kuite met jou práát. Tog kan jy met 'n bietjie kreatiewe probleemoplossing regkom, soos een koshuisvriend wat haar tasse op 'n matras gepak het en al die pad grondvloer toe gesurf het.
Dan moet jy jou kar gepak kry - omtrent soos 'n potjie Tetris. Van beddegoed tot handboeke tot jou versameling huisdansglase tot die goudvissie wat jy onwettig in jou koshuiskamer aangehou het. Vergeet Marie Kondo en haar gepatenteerde vou-tegniek. Sy kan nie kers vashou by 'n koshuiskind wat al haar aardse besittings in 'n Citi Golf laat pas nie.

Uiteindelik is jy en jou besittings in die kar. Jy het goeie musiek, padkos by die koshuis se deli met jou laaste eetkwota gekoop, en hopelik genoeg petrol om die huis te haal. Die langpad lê voor.
Ek studeer op my tuisdorp, so ek hoef nie elke jaar so 'n tog aan te pak nie. Daar bly vir my wel iets spesiaals aan langpad ry.
Verlede jaar gaan kuier ek by vriende in die Noord-Kaap. Soos ons ry, praat die plekname. Soms vertel hulle 'n verhaal van vreugde en hoop, soos Nuwerus, maar die meer melankoliese name is wat jou bybly: Moedverloor, Beenbreek, Soebatsfontein, Somersverdriet.
Water bly ook 'n belangrike tema. Daar is Vonkelfontein en Groenrivier, maar so ook Brakdam, Droëkloof, Stofkraal en Putsonderwater. Dié plekname is van die mooiste en mees kreatiewe - soos Spoegrivier, glo vernoem na die niestandhoudende stroom wat verby die dorp vloei en naby Hondeklipbaai by die see aansluit.
As die pad lank raak, dien die plekname ook as ligte vermaak. My vriendin het 'n speletjie uitgedink; watter plekname kan jy so bietjie aanpas om 'n Afrikaanse musikant of musiekgroep te skep? Wenners sover sluit in die Kameelboom Broers, die Krymekaar Boereorkes en DJ Ratelgat.
Om langpad te ry op pad na 'n vakansiebestemming is een ding, maar daar is iets spesiaals aan die pad huis toe. Toe my broer omtrent vier jaar oud was, keer ons terug van vakansie. Soos ons Stellenbosch inry, roep hy uit: "Ons is by die huis!"
My pa vra: "Hoe weet jy dit?"
Hy antwoord toe: "Want alles is op die regte plek!"
- Marietjie Booyens studeer LLM aan die Universiteit Stellenbosch.
- Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir 'n kompetisie waar Die Student vir studente gevra het om 'n meningstuk oor 'n lockdown-legende te skryf. Die wenner stap weg met R5000.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















