Die Student

Die liefde oorwin alles – sélfs afstand

As 'n mens regtig lief is vir 'n ander persoon, is die behoefte aan fisieke kontak groot. Daar is die behoefte om van aangesig tot aangesig te wees om mekaar werklik te leer ken. Jy kan mos nie met iemand uitgaan as jy hulle slegs een keer 'n jaar sien nie?

Die bogenoemde standpunt is geldig, maar die liefde oorwin alles - selfs afstand. Uitgaan in die moderne wêreld is 'n kombinasie van oproepe, boodskappe en om op mekaar se sosialemedia-bladsye te skryf. Ons jongmense het verskillende geleenthede soos om te gaan studeer of 'n ambag te leer of om selfs vir maande in Amerika te gaan boer.

Amori Potgieter
Amori Potgieter

Elke persoon sit in 'n ander bootjie, maar ons kan by mekaar leer. Verhoudings is nie so maklik dat albei partye met dieselfde roete by hul bestemming kom nie, maar eerder dat hulle op verskillende roetes is, maar dat hul harte saam die bestemming bereik.

Dit is waar dat wanpersepsies en misverstande meer opduik deur met mekaar te klets en te flankeer op WhatsApp, maar die verskillende platforms van kommunikasie maak die wêreld tog kleiner en die verlange minder. 'n Oproep en om weer sy of haar stem te hoor ná 'n moeilike dag is regtig lekker. Dit oortref ook die weermagdae van slegs een oproep 'n week na jou meisie toe.

My vriendin en haar kêrel gaan al vyf jaar uit, waarvan hy al vier jaar lank in Amerika boer. Hulle sien mekaar oor Desembervakansies en in Maart is die groot totsiens totdat hy weer terugkom. Sy is 'n sprekende voorbeeld van liefde oorwin alles. Die pad van 'n langafstandverhouding sit nie in almal se broek nie - daar is baie struikelblokke en baie hartseer wat saam met die afstand kan stap. Maar geluk is 'n keuse en om 'n klein opoffering te maak sodat 'n mens weer bymekaar kan wees, is beslis die moeite werd.

My kêrel skep dikwels namens ons altwee 'n ekstra skeppie moed om ons te help deur hierdie tyd.

Die grootste voordeel van langafstandverhoudings is die afsprake wat gemaak word wanneer twee verliefdes mekaar weer kan sien. Al die verlange en hartseer is weg en die tyd wat julle saam spandeer, word goud werd. In die tyd van "lockdown" het verskeie paartjies dit nie gemaak nie, omdat die afstand te veel geraak het. Dalk was die "lockdown" juis nodig vir paartjies om tot die slotsom te kom dat hul gewese ander helfte dalk nie alles nakom wat hulle beloof het nie. Om mekaar vir lank nie te sien nie, verg opoffering en geduld - dit wat ons as mense juis nie as maklik beskou nie.

My kêrel skep dikwels namens ons altwee 'n ekstra skeppie moed om ons te help deur hierdie tyd.

Die mense wat bevoorreg genoeg is om mekaar elke dag te sien: Waardeer die tyd saam. Maar paartjies wat afstand as 'n hekkie in die 400 m-naelloop het, moenie moed opgee nie. Ander mense se opinies kan nuttig wees, maar moenie dat iemand jou laat twyfel nie. Vir liefde is daar regtig geen grense nie. Alles kan oorwin word. Dit is wel 'n bittersoet reis - maar met die regte een is dit meer soet as bitter.

  • Amori Potgieter studeer onderwys aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus). Sy het in Mbombela, Mpumalanga, grootgeword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Amori Potgieter, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM