Die Student

Drink jy omdat jy wil, of omdat jy moet?

As jy by die meeste kuiers op universiteit opdaag, sal daar 99% van die tyd alkohol wees. Volgens baie mense met wie ek al gesels het, bly almal se antwoord dieselfde: "Wat is 'n kuier sonder 'n dop?"

Ek kan verstaan hoekom. Baie mense drink omdat hulle dit geniet, of omdat hulle te veel stres het en net wil ontspan, of net bloot omdat daar drank is by die kuier en almal drink. Moenie my verkeerd verstaan nie, daar's niks verkeerd daarmee om te drink nie. Ek geniet 'n drankie af en toe en weet waar die lyn is. Maar vir 'n rede vra ek elke keer dieselfde vraag vir myself: Drink mense omdat hulle regtig wil, of omdat hulle moet?

Wat ek bedoel met "moet", is dat jy verplig voel om te drink omdat jou vriende drink en jy nie uitgesluit wil wees nie, met ander woorde groepsdruk. Of in baie gevalle wil mense die idee skep dat hulle "nou groot" en onafhanklik is en glo dat alkohol daardie idee ondersteun.

Hendri Mouton
Hendri Mouton

Met groot respek gesê, jy hoef nie te drink om te wys jy's groot nie. Dieselfde met groepsdruk: Moenie doen wat ander sê jy moet doen nie. As jy nie wil drink nie, moet dan nie. Wys vir hulle dis wie jy is en jy hoef nie te drink om 'n goeie tyd te hê nie. Ek weet dis baie skaars dat jy studente sal kry wat min drink of selfs glad nie drink wanneer hulle by 'n kuier is of omring is deur hul vriende nie, maar jy maak 'n groot "statement" as jy nie die stroom volg nie

Toe ek in matriek was, was dit 'n groot ding as jy 18 geword het, want dit beteken jy mag drink. Maar ek persoonlik dink dit is waar almal die drink van alkohol begin verkeerd verstaan het. Baie mense dink as jy 18 is, moet jy drink omdat jy kan en mag, maar jy hoef nie verplig te voel nie.

Ek was al baie in die posisie geplaas waar ek kon saam drink as ek wou, maar ek het nie. Baie sal my beskou as "bang" of " 'n pliggie", en ek gee nie om of mense my dit wil noem nie, want dis presies hoekom ek nie gedrink het nie. Nie omdat ek bang was nie, maar omdat ek geen plesier daarin gevind het om op daardie stadium te drink nie.

Op universiteit het ek steeds vasgestaan om nie te drink nie, omdat ek 'n goeie tyd kan hê sonder om alkohol te drink. Baie mense sal dit beskryf as "boring", maar ek noem dit slim. Dis die beste ding om te weet dat jy laataand op jou eie kan terugry na jou huis en self in jou bed inklim en weet jy's in beheer van jouself. Ek is nie sommer iemand wat risiko's neem nie.

Wat is 'n kuier sonder 'n dop?

Dit is juis uiters belangrik dat ons as mense so vroeg as moontlik kan besef dat ons vir die regte redes moet drink, want as ons dit nie vroeg genoeg gaan besef nie, kan dit baie dinge in die toekoms vir onsself vererger, en die mense om ons. Ek sê nie jy mag nie drink nie, al wat ek sê, is: Drink vir die regte redes, en nie om ander mense tevrede te stel nie, want mense kan so gou oor die lyn trap sonder dat 'n mens dit eers agterkom. Sodra jy oor daardie lyn trap, kan enigiets gebeur met jou of iemand, wat jou of die ander persoon se lewe kan verander.

  • Hendri Mouton studeer sielkunde aan die Noordwes-Universiteit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Hendri Mouton, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM