
"Jy is koekerig."
'n Jaar terug het hierdie woorde my so skaam gemaak, maar nou wil ek daaroor lag en amper saam stem.
Ek is effens aan die konserwatiewe kant van die spektrum as dit by sekere sienings of waardes kom, maar dan het my baie konserwatiewe pa ook al vir my gesê dat ek te liberaal is. Dus kan ek eintlik maar net sê: "Ek is wat ek is: koekerig."
Maar seker 'n naked cake ('n koek met 'n baie dun laag versiersel op).
Ek hou steeds daarvan om in 'n kortbroek rond te loop en in 'n bikini op die strand te tan. Maar dit beteken nie dat ek my lyf verkoop of aandag soek by elke man wat wil kyk nie. Dit beteken net dat ek vryheid geniet om te dra wat ek wil.
My vraag is egter hoekom word dit anders gesien in die media?
Musiekvideo's laat meisies goedkoop lyk wat 'n kortbroek dra, hulle maak dit cool vir mans om op die verkeerde, lustige, manier na vroue te kyk.

Ek was sommer op die plek kwaad toe ek 'n sekere Afrikaanse musiekvideo gesien het waar meisies hulself verkoop aan die kykers. Ja, ek was kwaad vir die meisies. Want hulle het tog ingestem om só afgeneem te word. Besef hulle nie dat hulle 'n norm skep nie? Alhoewel party mense dit beskou as 'n "onskuldige musiekvideo", is daar ander mense wat daardeur gebreinspoel word. Daar is jong seuns wat leer om so na 'n vrou te kyk omdat dit dan so op TV uitgebeeld word.
Die eerste vraag aan 'n slagoffer van verkragting is gewoonlik: "Wat het jy aangehad?" of "Waar was jy?"
En miskien dink jy ek ruk nou die dam onder die eend uit, maar my verset gaan verder as net 'n musiekvideo. Dit gaan oor wat die media en TV-programme (selfs van ons eie taal) in ons gedagtes plant. En 'n daad begin immers by 'n gedagte.
My volgende vraag is, hoekom is verkragtings in storielyne deesdae so in die mode?
Stories is byna nie dramaties genoeg as daar nie 'n verkragting in is nie. Ek waardeer die poging tot bewusmaking van die kwessie, maar waar trek 'n mens die streep om dit by bewusmaking te hou of om oor te gaan na veralgemening toe?
As dit regtig vir bewusmaking is, hoekom word kontakbesonderhede van beraders of hulplyne nie verskaf ná die program nie? Dit laat my nekhare rys om te dink dat party mense dit deesdae as vermaak sien.
Dit sal moeilik wees om 'n 180°-draai te maak en kykers tevrede te stel met 'n "kumbaja"-storielyn waar alles net maanskyn en rose gaan met al die karakters. Maar ek voel tog dat skrywers, regisseurs en kunstenaars oor die algemeen moet dink aan die saadjie wat hulle plant en watter boodskap hulle nou eintlik wil oordra.
- Esmari Marais studeer BCom Kommunikasiebestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy kom oorspronklik van Mtunzini.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















