
Kerstyd was nog altyd een van my gunstelingtye van die jaar. Ek is versot op die liggies wat dorpies elke jaar trots aan die straatligte hang, die gevoel van liefde en omgee wat oral te sien is en die idee dat ek elke familielid kan sien. Kerstyd is 'n tyd van samesyn en waar daar saam met die mense wat jou wêreld opmaak gelag kan word oor al die simpel goed wat deur die jaar gebeur het.
Ná 'n riller van 'n jaar is ek seker baie mense sien uit na 'n rustige tyd by die see, of waar jy jouself ook al mag bevind, saam met familie en vriende. Ek, aan die ander kant, sien nie uit nie.
2020 het vir my baie geleer oor familie. Een van die vele lesse wat ek hierdie jaar geleer het, is dat familie nie altyd bloed is nie en dat vriende en vriendinne soms meer kan beteken as die familie waarin jy gebore is. Jy kan nie jou familie kies nie, maar jou vriende wel.
My familie bestaan uit 'n meisie wat té mededingend kan raak met Uno en wat lief is vir ballonne. Daar is die lang meisie van Namibië wat sterk op pad is om 'n vegan te word, die vriendin wat swot om 'n glorified huisvrou te word, wat hou van haar wyn en 'n mikrobiologie-meesterstudent wat enige tyd saam met musiek kan sing en dans. My familie het ook 'n rekeningkundestudent wat jou uit jou comfort zone uithaal elke kans wat sy kry, en 'n onderwyshonneurstudent wat goed is in skoonheidskompetisies (en 24 wenserpe het om dit te bewys). Hierdie familie word ook uitgebalanseer met 'n matrikulant wat medies wil swot, 'n diabeet wat hou van Spoegwolf en 'n teruggetrokke jong man wat in Alberton werk. O ja, daar is 133 ander meisies wat saam met my in die koshuis is wat nooit nee sê vir 'n vinnige koffie nie.

Hierdie gekose familie van my is die mense wat deur die jaar, wanneer my ouers ver in Namibië is en die res van my familie hulself tuismaak in die Kaap, seker maak dat al my varkies in hul hokke bly. Hulle ondersteun my op my slegte dae wanneer ek net in die bed lê bed en Netflix kyk en motiveer my om elke dag 'n bietjie beter te wees as die vorige dag. Hierdie mense vee my trane af wanneer 'n toets my ondergekry het, maak seker ek weet wanneer ek onnodig moeilik is, en is altyd die skouers waarop ek kan huil.
My regte familie is egter asemrowende mense wat elke jaar Kersdag spesiaal maak. Daar is altyd kos so ver as die oog kan sien en my tannie (al wil sy tien teen een nie graag nie) maak altyd die lekkerste pavlova, omdat Kersdag nie vir my dieselfde is daarsonder nie. My familie maak seker dat ek op die regte pad bly en nie myself te veel verloor deur die jaar nie. Hulle hou my gegrond in die waardes wat ek as kind geleer het, terwyl hulle nog steeds so hier en daar 'n grappie inwerk oor ek steeds nie 'n bestuurslisensie het nie.
Ek sien nie uit na Kersdag hierdie jaar nie oor verskeie redes. Ons gesin is hierdie jaar nie saam met familie in die Kaap nie weens die Covid-19-pandemie, en spandeer dit langs die kus van Namibië. Selfs al het ons Kaap toe gegaan vir die spesiale dag, sou dit tog nie dieselfde wees sonder my oupa en broer wat Liewe Jesus deur die jaar kom haal het nie. My oupa was versot op Kersdag omdat ons almal altyd saam was. My gekose familie is almal by hul gesinne en die beste "saamtyd" vir ons is 'n vinnige video call om op te vang.
Ek sien nie uit na Kersdag nie omdat ek heeljaar alreeds bietjie alleen en verlore voel, soos talle ander, en nie juis die energie het om dié feestyd te maak asof 2020 nie al my energie gedreineer het nie. Hierdie jaar was besonders en definitief een wat moeilik vergeet gaan word. Tog wens ek die jaar het nooit gebeur nie.
En so tussendeur my alleenheid en vrees vir Kersdag, dwaal my gedagtes na die individue wat minder het as ek en vir wie hierdie tyd veral moeilik is. Ek dink aan kinders in kinderhuise, die hulpelose mense op straat en die mense wat nie so welaf soos ek is nie. Dan voel my alleenheid en vrees sommer vinnig simpel en asof ek soos 'n tipiese jong mens is wat net iets soek om oor te kla.
Ek sien nie uit na Kersdag nie, omdat die dorpies se straatliggies nie hierdie jaar só helder gaan skyn nie, die pavlova gaan nie op die lang houttafel regstaan en wag nie en oupa en boeta gaan nie laggend in die hoek sit en praat nie.
Ek wens egter vir jou wat hierdie lees 'n absolute wonderlike feestyd toe waar jy net weer mag besef hoe wonderlik die geskenk van familie en jou gekose familie is. Spandeer soveel moontlik tyd saam met elkeen. Mag jou feestyd vol liefde, vreugde en vrede geprop wees en jou beker só oorloop met die Here se genade dat jy nie weet wat om alles daarmee te doen nie.
- Jean-Mare Maree studeer BA Sielkunde met arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy kom van Windhoek.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















