
Iewers verlede jaar bel ek my ouma om te hoor of sy 'n resep vir brosbrood het. Met 'n pen en boek in die hand gryp ek toe sommer die geleentheid aan en vra ook vir haar resepte vir karringmelkbeskuit, wortelkoek en wat nog als.
'n Resep is mos 'n kosbare erfstuk wat van een generasie na die volgende oorgedra word. Hier by die vierde een vra sy: "Skat, het jy nie 'n Kook en Geniet nie?"
Erfenis kan 'n vreemde ding wees - bekend, maar ook onverwags. Ons kweek sekere tradisies doelbewus, maar besef dalk eers jare later dat die klein goedjies, die onbeplande, 'n ewe belangrike aspek van ons erfenis uitmaak.

By my oupa se gedenkdiens tien jaar gelede is boompies uitgedeel. Ons gesin s'n is geplant op die straathoek langs ons huis. Elke keer as ek met die honde verby die boom stap, staan ek stil sodat hulle kan ruik aan die stam. Ek verbeel my hulle ruik meer as net dit wat ander honde gelaat het. "My nooi is in 'n nartjie, my ouma in kaneel . . ." So is my oupa in die reuk van klam grond - as hy iets uit sy groentetuin saam huis toe gestuur het, moes die grond bly klou aan die wortels "om dit vars te hou".
Die herinneringe is uniek tot my belewenis van my oupa, tog spreek dit tot 'n mate van iets universeels. Ons onthou dalk nie dieselfde dinge of mense nie, maar ons onthou op dieselfde manier. Herinneringe met 'n sintuiglike verbintenis is dikwels die skerpste. Toe my kêrel 'n baba was, vertel sy ma, sou hy ophou huil sodra hy die geklingel van sy ma se armbande in die vertrek langsaan hoor - en dit bly nou nog 'n handige manier om haar in 'n winkel op te spoor.
Vir elkeen is dit 'n ander reuk, kleur, geur of geluid wat 'n gevoel van nostalgie wek: Liedjies uit jou skooldae (ek kry steeds hoendervel as ek dink aan die hoë note in "Soos 'n wildsbok"), RSG wat speel oor 'n draadloos, die reuk van skaapboud op 'n Sondagmiddag, jou ma se parfuum, die gedreun van gesange in die kerk, die skeerroom wat jou oupa met 'n kwassie aangeverf het, taai vingers ná 'n stroperige koeksister . . .
As ons huishulp vetkoek gebak het, het ek my verwonder aan hoe sy vat-vat aan die sout en gis en dit in die bak strooi sonder om te meet of te weeg. Toe ek wil weet hoe sy dit regkry, sê sy: "Ons doen dit nog altyd so."
Dít spreek vir jou van erfenis - van 'n gedeelde geheue, 'n "ons" wat al lank bestaan en nog lank sal voortduur.
Dis nie een groot ding wat as jou erfenis gedenk word nie. Dit is dosyne der dosyne klein dingetjies wat tesame sorg dat jy weet: Hier voel ek tuis.
- Marietjie Booyens studeer LLM aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















