Die Student

'Ghetto-kind, ek sien jou struggle en jou pyn'

Ghetto-kind, ek sien jou struggle en jou pyn.

Ek weet daar is tye dat jou hoop verdwyn en die mure jou vasdruk. Jy voel daar is no way out.

Ek sal alles in my vermoë doen om vir jou te wys dat soos Chester Williams nie 'n produk van sy omstandighede was nie, ek ook nie sal wees nie en jy nie hoef te wees nie.

Pasop klein ogies vir wat julle sien. Die strate van die ghetto maak 'n mens baie goed wys. Jy kom in aanraking met goed wat vir baie onbekend is. Tienerswangerskap, dwelmverslawing, alkoholmisbruik en die hartseerste van alles: werkloosheid. Dit is ons realiteit en ons neuse word elke keer daarin gevryf. Nie deur ander mense nie, maar deur ons eie mense. Dis diegene wat ons moet motiveer wat ons afkraak. Dis ons eie mense wat sê dis onmoontlik om te ontsnap uit ons omstandighede.

Megan Adendorff
Megan Adendorff

Die meeste mense wat afkomstig is van die ghetto aanvaar dat dit veronderstel is om so te wees. Waar ek vandaan kom, is dit presies soos dit 25 jaar gelede was. Ons leef in dieselfde omstandighede as in die apartheidsera en dis die gerieflikste verskoning. Om die apartheidsregering die skuld te gee is 'n geldige rede om in 'n hoekie te sit en krepeer totdat jou geleenthede uiteindelik wegkwyn. Dan word hierdie soort verhaal oorgedra en oorvertel.

Al is Williams en Tinus Linee se verhale in die ghetto geskryf, word mense soos ek wat nes hulle glo en groot droom, uitgelag en afgekraak. Maar selfs terwyl dit so is, weier ek om op te hou glo. Ek weier om uit my droom te ontwaak totdat my droom in my realiteit verander.

Selfs al wil ek ontwaak, selfs al voel ek soms gedemotiveerd en terneergedruk, gebeur daar elke keer iets wat soos 'n leidraad van die heelal lyk. Dis asof die Almagtige vir my iets probeer sê. Iets soos "die struikelblokke is uitdagings, die klein suksesse is belonings, hou aan en kyk wat lê vir jou voor".

Ek droom daaroor om 'n ondersoekende televisiejoernalis te word en dis juis hoekom ek soggens voor 05:00 my huis verlaat om 'n trein te vang tot in Bellville. Dis hoekom ek so hard werk om graad te vang. Ek sal nie 'n statistiek wees nie, maar 'n produk van die talent wat mense probeer toesmeer. Ek wil 'n voorbeeld wees van die ongeslypte diamante wat in die strate rondlê, nie net in Amstelhof nie, maar die ghetto in sy geheel.

Met my hele wese wil ek agter stories aanhardloop en dan terug wees net betyds om live te gaan. En eendag? Eendag, nie as nie, wanneer ek my droom vervul het, sal ek terugkom en fluister in die nuwe generasie se ore. Ek sal positiewe verhale vertel net soos Chester het.

Hierdie roos wat uit die concrete groei, sal as bewys dien dat concrete ook vrugbaar kan wees.

  • Megan Adendorff studeer kuns aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Megan Adendorff, Universiteit Van Wes-Kaapland

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM