Grootste les van 2021: Daar was baie te leer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dylan Botha
Dylan Botha

As 'n voornemende eerstejaar het ek baie verwagtinge en vooropgestelde idees gehad oor wat die jaar sou inhou.

Wel, soos my oupa altyd gesê het, toe ek wakker word, was my koffie yskoud.

Ek dink ek praat namens baie eerstejaars as ek sê dat die jaar "alles en nog meer" was, maar terselfdertyd nie op die manier wat ons gedink het dit sou wees nie.

Ondanks die feit dat die lewe nooit uitwerk soos wat 'n mens dink nie, het Covid-19 ook sy uitdagings meegebring. Dis nou maar seker een van die dinge in ons samelewing wat met die meeste voor- en nadele kom.

Hoewel die meeste van ons steeds kon deelneem aan koshuistradisies en sosiaal in kuierplekke kon verkeer, dink ek die pandemie het steeds die egte universiteit- en kampuservaring soos wat die meeste mense dit ken, van ons ontneem.

As 'n dramastudent aan die Universiteit van Pretoria is ek bevoorreg genoeg om, anders as die meeste studente, darem ietwat van die kampuservaring te kon beleef, net sonder 80% van die ander studente wat op die gras lê en slaap tussen klasse of die geklets in die kafeteria en groot lesingsale.

In dieselfde asem kan ek ook met sekerheid sê dat duisende ander eerstejaars net so dankbaar soos ek is vir Covid-19 in die sin dat ons as gevolg daarvan groot dele van ons eksamen en assesserings aanlyn kon aflê.

Ek het geleer wat ouer studente bedoel met: 'Moenie die aand voor 'n groot sperdatum kuier nie!'

Vanjaar het ek geleer om voluit te lewe, ondanks Covid en maskers, ondanks sperdatums en inperkings. Ek het geleer wat ouer studente bedoel met: "Moenie die aand voor 'n groot sperdatum kuier nie!"

Ek het geleer wat dit beteken om laat in die aand garage toe te stap vir lekkers of 'n pakkie tjips, dalk selfs 'n doughnut of twee. Ek het geleer 'n mens kan oorleef met die minimum in jou kaste - en in jou bankrekening. Veral jou bankrekening.

Ek het geleer dat elke student sy eie idee en konsep van 'n ideale studentelewe het en dat dit ook oukei is. Dit wat Susan in die koshuis beleef en wat Piet in sy woonstel beleef, verskil soos dag en nag. Ek het geleer wat vir my "dag" is kan dalk vir iemand anders "nag" wees.

Elke student is op sy of haar eie reis na hul bestemming, maak nie saak of daardie bestemming 'n onderwyser, ingenieur, rekenmeester, regskenner, aktuaris, dokter of kunstenaar is nie.

Niemand se reis is dieselfde nie en boonop volg niemand dieselfde pad of roete nie. Sommige mense reis dalk verder as ander, sommige dalk langer.

Ander kies dalk om halfpad deur die reis 'n ander roete te vat of selfs om doodeenvoudig op te hou reis . . . en dis ook oukei.

Ek weet nie of daar een ding is wat ek kan uitsonder van die jaar nie, maar wat ek wel weet, is dat ek vanjaar baie geleer het.

  • Dylan is 'n dramastudent in sy eerstejaar aan die Universiteit van Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Dylan Botha, Universiteit Van Pretoria

SPELETJIES VANDAG

CTA