Die Student

Het die virus studente wakker gemaak?

Om student te wees was van kleins af een van die dinge waarvoor ek nie kon wag nie, al het ek glad nie geweet wat dit eintlik behels nie, maar die geesdrif was daar.

Vandag voel ek weer soos daardie klein dogtertjie en ek weet presies wat "student wees" behels.

Voor Covid-19 het ek elke liewe dag 'n nuwe gesig op kampus gesien. Nou is daar niemand nie. Al is jy tans daar, is dit leeg.

Dink gou aan jou bestemming as student, hoe 'n groot invloed het dit net nie op jou hele lewe gehad nie? In 'n jaar en 'n half het universiteit my dinge oor myself geleer wat ek werklik voor dankbaar is en nooit verwag het nie. Die beste van alles is 'n mens besef dit eers as jy vir so lank nie op kampus kon wees nie. Ons gaan almal moontlik maskers dra en nie noodwendig dadelik in al die opwindende aktiwiteite kan inspring as ons teruggaan kampus toe nie. Ja, dis nou nie ideaal nie, maar gelukkig beweeg ons nader aan die "normale".

Ilanka Kleynhans
Ilanka Kleynhans

Maar die vraag wat ek vir jou het is, gaan dit ooit weer normaal wees? As die maskers afkom en die dames weer lipstiffie gaan dra, gaan jy ooit weer dieselfde voel oor kampus? Ek gaan beslis nie.

Ek glo nog altyd dat as dinge binne jou verander, verander alles om jou. En nou dat ek besef hoe groot 'n invloed universiteit op my hele wese het, sien ek dinge in 'n nuwe lig. Miskien was die koronavirus nodig om jou weer terug aarde toe te bring? Dalk was dit nodig sodat jy besef jy moet eintlik begin sit en leer en nie net hoop vir 50% nie.

Miskien was dit nodig vir jou om jouself weer te vind.

Miskien was dit nodig om te besef dat jy meer moet liefhê en waardeer.

En nee, ek praat nie van alkohol, sigarette of selfs jou gunsteling-kuierplek nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is baie opgewonde oor Oom Cyril wat die verbod gelig het. Maar ek praat van die mense met wie jy dit deel en die herinneringe wat jy maak as student.

Al het ek die tyd van my lewe in my ouers se huis, sien ek daarna uit om post-Covid-19 op kampus te wees.

Dalk is ek naïef, maar ek glo dat daar een of ander vreugde in die studente gaan vonk wat daar nie vantevore was nie. 'n Vreugde wat helderder skyn as Suid-Afrika se mooiste sonsopkoms. 'n Vonk van waardering.

Ek weet nie van jou nie, maar ek mis selfs die sekerheidswagte wat streng vra: "Student?" Selfs my dosent wat (volgens my) veels te vroeg by die klas is en my bietjie vreemd aankyk as ek 08:00 op die kop daar aankom. Ek mis elke klein detail.

Kort voor lank is jou tyd op universiteit verby en jy wens jy het elke aspek meer waardeer. So, sien dit as 'n toetslopie. Jy weet mos nou hoe dit voel om nié daar te kan wees nie.

As jy post-Covid-19 rondloop op die kampus, staan vir 'n oomblik stil, haal asem en waardeer dit net.

  • Ilanka Kleynhans studeer BCom kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy kom van Johannesburg.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se kompetisie, waar ons studente gevra het hoe universiteite post-Covid gaan lyk. Die wenner stap met R5000 weg.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Ilanka Kleynhans, Noordwes-Universiteit

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM