Ek het onlangs begin dink oor 'n kommerwekkende tendens. Dis nie nuut nie en ek is nie die eerste een wat dit opgemerk het nie: Ons jong mense raak nie betrokke in Suid-Afrikaanse politieke prosesse nie.
Uit gesprekke met my vriende en kollegas kom twee oorsake vir hierdie gebrek aan geesdrif na vore.
Eerstens, ons jeug is so gefrustreerd met die die huidige stand van sake dat hulle nie meer hoop het op verbetering nie.

Tweedens sien hulle die politieke wêreld as ingewikkeld en dat dit moeilik is om te weet wie om te vertrou en ondersteun - en hulle is reg.
Kom ons kyk na hierdie twee oorsake. Maar voordat ons dit doen, waaroor praat ons nou regtig? Watter verskil kan die nie-stemmers in ons land maak?
'n Groot verskil - die statistieke is duidelik.
Die probleem (of geleentheid)
In die laaste algemene verkiesing in 2019 het ongeveer 17,6 miljoen mense gestem uit 26,7 miljoen geregistreerde kiesers. Soos die grafiek hieronder wys is die tweede grootste party in ons politiek die "Geen Stem Party".
Hulle het maklik die DA en EFF geklop en is net 'n tree agter die ANC. En hier tel ons nie eens die mense wat in aanmerking kom om te stem, maar nie geregistreer is nie.
LEES OOK | Verkiesing 2019: Ontleders maak sin van stempatrone
In die plaaslike verkiesing van 2021 het die "Geen Stem Party" gewen. Ver. Hulle het meer as 54% van die "stemme" ontvang.
Hierdie tendens is nie goed nie; in 'n demokrasie moet elke stem gehoor word sodat die beste leiers in die regte posisies geplaas kan word. Maar dit is ook 'n ongelooflike geleentheid vir diegene wat nie in die verlede gestem het nie om hul stem te laat hoor. Dit is nooit te laat nie.
Die stille meerderheid
Hier is waar die eerste probleem opduik. Die hoeveelheid keer wat ek al gehoor het "ek weet nie vir wie om te stem nie, so ek stem glad nie", is meer as wat ek kan tel.
Dit kom vanuit 'n gebrek aan hoop dat dinge beter kan wees; 'n tipe onverskilligheid wat veroorsaak word deur die persepsie dat daar niemand is wat jou belange op die hart dra nie. Politieke partye het dit nie oor die laaste 20 jaar maklik gemaak om hulle te vertrou nie.
Maar 9 miljoen mense (en meer wat nog nie geregistreer is nie) het die mag om 'n verkiesing in enige rigting te laat swaai. Sekerlik kan hierdie 9 miljoen 'n verskil maak deur eenvoudig volgens hul gewete te stem? Dit is tyd vir hierdie stille meerderheid om op te staan, want geen stem is 'n stem vir die status quo.

Kyk maar deur die geskiedenisboeke. Ware verandering in 'n politieke landskap word net teweeggebring deur 'n stille, maar ontevrede, meerderheid wat begin om deel te neem. Dit is waarvoor demokrasie daar is. Sonder daardie 9 miljoen kan dinge nie verander nie.
So, as jy nie stem nie, is dit 'n stem vir die huidige stand van sake, en in 'n land vrot van die korrupsie en swak dienslewering, beurtkrag en slaggate kan ons dit nie bekostig dat dinge net dieselfde bly nie.
Die mense met die meeste mag in hul hande is dié wat nog nie besluit het wat om te doen nie. Die opinie van "watter verskil gaan my stem nou regtig maak", beteken niks, want as elkeen van daardie 9 miljoen gestem het (dit maak waarskynlik nie eens saak vir wie nie), het ons in 'n verskillende land gesit met 'n verskillende politieke landskap. Só 'n verskil kan dinge beter maak vir ons almal in ons alledaagse lewe.
Dit is ook baie belangrik om nou dadelik, in September 2022, te besluit om aksie te neem. Só gee jy jouself kans om te leer hoe die politieke partye hulself identifiseer en wat hulle doen; kans om 'n keuse te begin maak.
Om die politiek te leer ken
Maar hoe maak jy die keuse? Die politiek is dan so ingewikkeld. Ja, en daar is goeie rede daarvoor. Hoe meer ingewikkeld die politiek is, hoe moeiliker is dit om ons amptenare verantwoordbaar te hou vir hul optrede, so die politici het 'n goeie rede om dit ingewikkeld te maak.
Daarom is dit moeilik om politiek aan te leer; dit verg tyd en wilskrag om uit te vind waarin partye glo en wat hulle op grondvlak doen. Maar die voordele weeg baie meer as die moeite wat dit verg.

Nie so seker nie? Laat ek jou wys. Sal jy graag eendag 'n besigheid wil begin? Belastingkoerse en besigheidsregistrasies word deur die regering geadministreer.
Sal jy graag ondersteuning wil ontvang om daardie besigheid te laat groei sodat jy kan bydra tot werkskepping? Daar is regeringsprogramme wat klein besighede ondersteun om presies dit te bereik.
LEES OOK | 2024-verkiesing: Ons jong mense moet die regering op hul tone hou
Kom ons gaan selfs meer basies as dit. Wil jy graag eendag 'n werk hê waar jy geld verdien? Op veilige paaie bestuur wat goed in stand gehou is? Elektrisiteit gebruik? Wil jy graag toegang hê tot goeie en bekostigbare gesondheidsorg?
Al bogenoemde velde word swaar beïnvloed of totaal beheer deur die regering. Dit maak saak wie in beheer is, en jou stem kan 'n enorme verskil maak in jou lewe en in die lewe van almal om jou.
So, hoekom ek?
Kom ons blaai deur die geskiedenisboeke. Die jeug het nog altyd voorgeloop wanneer daar politieke verandering nodig was. Dit was die jeug wat die "struggle" teen die onderdrukkende apartheidsregering begin het. Dit was die jeug wat oorloë help beëindig het en seker gemaak het dat ons vir die onderdruktes sorg.
Ons het die verantwoordelikheid om die dryfveer van verandering te wees, en dit begin als deur deel te neem aan die proses en deur die nodige werk te doen om te leer waarvoor ons staan en wat ons nie sal duld nie.
Dit was die jeug wat oorloë help beëindig het en seker gemaak het dat ons vir die onderdruktes sorg.
Die eerste stap is om te lees. Neem tien minute elke dag om Suid-Afrikaanse nuus te lees. Maak seker jy verstaan die magte en ideologieë wat ons politiek aandryf, al neem jy dit stap vir stap. Met daardie tien minute sal jy die nodige kennis kan opdoen om op te tree.
Dan kan jy begin om jou vriende, familie en almal om jou te inspireer om dieselfde te doen. Een politieke aktivering versprei soos 'n veldbrand, en dit is hoe jou stem waarlik 'n verskil kan maak. Maar dit begin alles met net een tree.

Die tendens van draadsittery in die politiek is niks nuuts nie, maar dit is 'n enorme geleentheid - vir dié van ons wat oor ons land omgee en glo dat dinge beter kan wees - om op te staan en 'n verskil te maak.
So, lees, dink en praat oor die kwessies waaroor jy omgee. En die belangrikste van als, wanneer die tyd kom - gaan stem.
- Rinus Fleischmann is 'n bedryfsingenieurstudent in sy finale jaar aan die NWU in Potchefstroom en 'n kranige debatteerder oor die invloed wat goeie regering in die land kan hê.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk na hierdie video.













