
"Jy is nog jonk, my kind. Jou hele lewe lê nog voor jou." Die afgelope tyd as ek begin wonder oor wanneer dinge vir my gaan gebeur, kry ek hierdie bemoediging - my lewe lê nog voor my. Ek is darem nog nie oor die muur nie. Daar ís nog hoop.
As jong mense word ons konstant herinner aan dié ideaal dat ons nog lank het om te lewe, om die soet en bitter wyn van die lewe te kan proe, om die goed en die sleg te ervaar, en dat ons op die agterstoep van 'n ouetehuis sal sit en stories uitruil.
"Jy is nog jonk, my kind. Jou hele lewe lê nog voor jou."
Hierdie ideaal word vinnig afgesaag, oor drie redes.
Eerstens, die vrae wat op almal se lippe is as jy op skool is; "Wat wil jy word as jy groot is?" en "Wat gaan jy ná skool doen?" verander vinnig na "Het jy al begin aansoek doen vir werk?" en "Wat gaan jy ná universiteit doen?" Reeds op hoërskool word ons gebreinspoel oor wie en wat ons wil word, bloot om skuldig te voel as ons in ons twintigs van besluit verander noudat ons meer insig het as daardie naïewe agttienjarige met haar groot drome en onrealistiese lewensverwagtinge.
Des te meer ervaar studente in en ná universiteit die druk om 'n werk te kry om die sogenaamde grootmenswêreld, waarna ons in matriek so uitgesien het, uiteindelik te kan betree.

Dit is in dié tyd waar die voëltjie uit die nes geskop word en moet leer om te vlieg. "Mamma, ek klap my vlerke maar dit voel nie asof ek begin vlieg nie. Ek klap my vlerke en ek sing my mooiste liedjie, en steeds pik ek vir saadjies en wurms op die grond. Wanneer gaan ek begin leef en nie net oorleef nie?"
Hou op om jouself te vergelyk
Tweedens, ons meet onsself aan wêreldse standaarde en ander se sukses op ons ouderdom, of is dit net ek? Ek voel soms mismoedig as ek dink aan hoe Kylie Jenner reeds op 21 'n miljardêr was terwyl ander op daardie ouderdom op two-minute noodles moet leef. Ja, die struggle is real.
Dan is daar die familiegeleenthede waar tannies en ooms heel geïnteresseerd vra wanneer jy 'n oulike kêrel huis toe bring, of jou vriendin raak verloof en jy begin wonder of jou prince charming net so rigtingbeduiweld is soos jy, want hy het vir seker verdwaal en is miskien te trots (hardkoppig) om vir aanwysings te vra.
LEES OOK: 'Sjoe, nou is al jou boeties getroud, wanneer is dit jou beurt?'
En om nie te praat van jou vriende wat rigting gevind het nie, who seems to have everything figured out, en veral dié wat "adulting" maklik laat lyk. Soms voel jy misplaas, verlore en onbeholpe in 'n wêreld wat blyk (klem op blyk) al sy varkies op hok te hê.
Derdens, al is ons nou eers in ons vroeë twintigs het van ons al tragedie beleef. Vir party is dit dalk 'n Shakespeariaans-geïnspireerde tragedie van liefde en dood. Vir sommige is dit 'n gebroke huis, en vir ander kan dit die tragedie van lewe wees.
Dit is tragedie wat ons gewoonlik bring tot die besef dat die lewe kort is. Wanneer jou lewe in 'n oogwink onherroeplik verander. Wanneer daardie bucket list met alles wat jy nog wou doen, nie meer saak maak nie. Wanneer dit jou bybly dat jy nie die foon opgetel het nie en wat as . . . Wanneer jou laaste woorde by jou spook en dat jy nie meer gesê het "ek is lief vir jou" of "ek is jammer" of selfs net 'n laaste tot siens nie. Skielik maak niks meer sin nie.
Wanneer jou lewe in 'n oogwink onherroeplik verander. Wanneer daardie bucket list met alles wat jy nog wou doen, nie meer saak maak nie.
Volgens statistieke word 9% van tienersterftes toegeskryf aan selfdood, terwyl motorongelukke as gevolg van dronk en roekelose bestuur die hoofoorsaak is vir trauma, erge beserings en sterftes onder die jeug. Soms hoor 'n mens dat iemand 'n ontydige dood gesterf het, nes die geval met die Driehoek-tragedie waar leerlinge hulself in 'n paniek gevind het toe die brug op hul klasmaats geval het. En wat van die kind wat teen kanker veg?
Waaraan meet 'n mens lewe? Die strepie tussen geboorte en sterfte. Wil jy iets ironies hoor? Daardie strepie word nie langer getrek hoe langer jy leef nie. Dit bly dieselfde lengte vir almal. Lewe is 'n oomblik - 'n oogwink en dan is dit verby.
So alhoewel my beskermingsengel teen die doodsengel veg om my met nog 'n dag te seën, weet ek nie hoeveel dae ek oor het nie. Ek is jonk, maar my dae kan dalk net te kort wees om lank te leef. Ek weet nie wat die lewe inhou nie, en veral nie hoeveel seasons of love (jammer, Rent-verwysing) ek mee geseën gaan wees nie.
Daarom wil ek in die oomblik leef en skattejag, herinneringe vasvang en wegbêre in my skatkis, en meer as ooit wil ek LééF (nie net oorleef nie).
- Melissa van Eeden studeer bemarking aan Unisa. Sy kom van Roodepoort.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
- Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















