
Die Covid-pandemie het studente se akademiese lewe op sy kop gekeer.
Klasloop is seker die grootste verlies, maar laat ons nie vergeet van die onderskatte aspekte van die akademiese ervaring nie - daardie dinge waarvan jy nie in die universiteit se opedagpraatjies hoor nie.
Iets wat byvoorbeeld nie sommer in die amptelike brosjures sal verskyn nie, is die vrees - en soms vermaak - wat gepaardgaan met 'n deurnagsessie in een van die universiteit se rekenaarsentrums. Jou aanvanklike bedoeling is dalk nie om te deurnag nie, maar iewers rondom elfuur begin jy sommetjies maak: Nog 3 500 woorde om te skryf aan jou taak, teen 'n (optimistiese) pas van 500 woorde per uur . . . Jip, jy en daai taak gaan saam die son sien opkom.

Teen middernag word die amateurs van die swaargewigte geskei. Elkeen wat ná 12 nog sit, het sy eie tegniek om dit tot môre te maak. Een student is gewapen met 'n uitgebreide versameling highlighters. 'n Ander se meisie bring vir hom trooskos. In die hoek gebruik iemand sy handboek as kopkussing vir 'n strategiese power nap.
'n Deurnagsessie hou darem een groot voordeel in: Tussen die studies deur bied dit die ideale geleentheid om te people watch. My gunsteling-lokaal bly Humarga, die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe se "rekenaargebruikersarea". Ná middernag lyk Humarga se gange kommerwekkend baie soos die Overlook Hotel in The Shining, maar as jy eers die moed bymekaargeskraap het om in te stap, is dit dié beste plek en tyd om interessante karakters dop te hou.
Die persoon wat jy eerste oplet, is die meisie wat met die een hand tik terwyl sy met die ander 2 Minute Noodles uit 'n kosblik eet - só sterk gegeur dat jou oë amper begin traan reeds wanneer jy in die gang afstap (eers is dit irriterend, maar teen twaalfuur is daar 'n groot versoeking om 'n happie te gaan vra).
Die volgende een hoor jy voor jy hom sien: Die ou wat fanaties aan die tik is, tussendeur groot slukke uit 'n blikkie Red Bull. Sulke mense moet jy eerder nie nader vir 'n gesprek nie - hy is duidelik op deadline. Dit, of hy probeer bose geeste uit die sleutelbord verwilder.
Die grootste bederf in 'n rekenaarlokaal is as jy die doodsnikke van 'n groeptaak kan waarneem. 'n Magstryd woed tussen die twee dominante persoonlikhede, iemand dra onder haar sweetpaktop reeds pajamas, nog een probeer wanhopig sin maak uit die Harvard-verwysingstelsel en die laaste ou speel Candy Crush op sy foon . . .
As enige mens lank genoeg in so 'n omgewing is, beleef hy die een of ander vorm van 'n eksistensiële krisis. Ek hou vol: Jy is net 'n ware student as jy om middernag agter 'n rekenaar sit en begin wonder of jy nie dalk 'n tatoe moet kry of op Jeffreysbaai sandale moet gaan maak nie. Sulke krisisse lei soms tot kursusveranderings, maar gewoonlik kan jy die effekte teenwerk met 'n draairoomys by McDonald's of slaptjips by die BP.
Al haal dit nie die universiteit se bemarkingsmateriaal nie, is so 'n deurnagsessie 'n sentrale deel van studentwees. Ná middernag in die rekenaarlokaal sien jy dat jou medestudente ook mens is - en dít is so 'n plek se eintlike aantrekkingskrag.
- Marietjie Booyens studeer LLM aan die Universiteit Stellenbosch.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
- Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















