Die Student

’n Ope brief aan die rand

Liewe rand

Ons mis jou. Jy kom kuier deesdae te min in ons bankrekeninge. Wanneer jy wel kom kuier, is jy redelik vinnig weer op pad uit. Ek wil amper sê dis nogal ongeskik van jou, maar tog verstaan ek.

Die laaste ruk was nie 'n goeie tyd vir jou nie. Mense verwys na jou as gemors en waardeloos. Van hierdie mense is van mening dat dit eenvoudig hierdie korona-ding is wat jou so effens pootjie. Ander sê weer dat die mense wat na jou moet omsien jou verwaarloos het en dis hoekom dit so sleg met jou gaan. Daar is mense wat jou steel en jou misbruik. Ons wens ons kon meer doen om jou te beskerm.

Schalk Bezuidenhout
Schalk Bezuidenhout

Rand, ek weet nie genoeg van jou af om 'n ingeligte opinie te lewer nie. Ek het jou nie gaan studeer nie. Ek volg maar net jou doen en late op die nuus soos die meeste van ons.

Ek wil net hê jy moet onthou dat ons almal baie lief is vir jou en dat ons aan jou dink.

Ek onthou toe 'n paar van jou genoeg was. Ek onthou toe ons nog 'n paar van jou kleinste waardes, die 1c en 2c, kon gebruik om 'n handvol lekkers by die naaste kafee te koop. Nou is jou kleinste noot skaars genoeg.

Rand, ek was nog nie so baie oorsee in my lewe nie, maar ek onthou die paar keer wat ons al saam gereis het. Dit was lekker. Natuurlik moes jy aan daai kant bietjie harder werk as wat jy hier in Suid-Afrika aan gewoond is, maar jy het reggekom.

Op die oomblik sukkel jy egter om by te bly met die groot manne daar oorkant die waters. Maar soos ek reeds vroeër in my brief genoem het: ons verstaan. Jy is siek. Kom ons bly Desember eerder by die huis. Jy het die rus nodig.

Rand, ons hoop jy raak gou gesond. Ons sal probeer reël dat iemand vars blomme en ballonne vir jou kom aflewer. Miskien laat dit jou beter voel.

Liefde en groete,

Die burgers van Suid-Afrika

  • Schalk Bezuidenhout (26) is 'n komediant en 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer en kom oorspronklik van Kempton Park.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Schalk Bezuidenhout

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM