Om van koers te verander in jou studieloopbaan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Louw Brink Foto: Verskaf
Louw Brink Foto: Verskaf

Om laat in 'n mens se studieloopbaan skielik van studierigting te verander, is nie altyd 'n maklike proses nie. Wat doen jy as jou droom om 'n prokureur, 'n dokter of selfs 'n filosoof te word dalk 'n bietjie anders lyk teen die einde van jou studie?

Dit kan angswekkend wees om skielik van rigting te verander, maar dit is nie vreemd nie.

Die Engelse skrywer en denker C.S. Lewis het eenkeer gesê 'n mens maak nie vooruitgang as jy aanhou stap in die verkeerde rigting nie. Volgens hom begin vooruitgang wanneer 'n mens omdraai en die eerste tree vat na waar 'n mens begin het.

Hierdie beginsel geld ook as 'n mens besef jou studieloopbaan is onversoenbaar met jou drome.

Dit beteken ook nie dat alles wat jy tot in daardie stadium gedoen het, 'n gemors was nie.

Lewis self het voorgraads filosofie studeer en later klas gegee in Engelse letterkunde. Hy het sy filosofiese opleiding gebruik om hom te help met die skryf van verskeie boeke en ook met sy ontleding van Engelse tekste.

Nog 'n voorbeeld is die akteur, sanger en liedjieskrywer Kris Kristofferson. Hy was in die Amerikaanse lugmag en het ook op 'n tyd Engelse poësie aan die Universiteit van Oxford studeer. Kristofferson het 'n belowende loopbaan in die lugmag gehad en sou Engels doseer aan die West Point-akademie. Hy het egter daarteen besluit en eerder sy droom om 'n liedjieskrywer te word, nagejaag.

Ongelukkig is die moontlikheid daar dat 'n mens teenkanting kan ontvang. . .

Sy tyd by Oxford het hom gehelp met sy lirieke en hy is later beskou as een van die beste liedjieskrywers van sy generasie.

Ongelukkig is die moontlikheid daar dat 'n mens teenkanting kan ontvang wanneer jy van koers gaan verander. In Kristofferson se geval het sy familie hom aanvanklik verstoot, want hulle kon nie verstaan dat hy eerder 'n kans wou waag met sy musiekloopbaan nie. Volgens hulle was hy besig om sy lewe op te mors. Gelukkig vir die musiekwêreld het hy volhard en bly glo in sy droom.

In my persoonlike lewe moes ek van die bogenoemde lesse toepas. Selfondersoek en die besef dat jou droom dalk elders lê, is nie maklik nie. In 2014 het ek op 'n laat ouderdom aan Kovsies (die Universiteit van die Vrystaat) begin studeer.

My droom was toe om 'n joernalis te word. Nadat ek my graad in media en joernalistiek voltooi het, het ek besluit om eerder my honneurs in filosofie te doen.

Ek was seker dat my keuse om filosofie te studeer die finale keer sou wees dat ek van rigting sou verander. Nadat ek my honneurs in 2019 voltooi het, het ek reeds beplan om my meesters te doen. Die Covid-19-pandemie het my planne 'n bietjie omvergewerp en dit het my tyd gegee om verder te besin oor wat ek wou doen. Ek was seker dat dit die rigting is waarin ek wou studeer en later ook wou klasgee, maar ek het ook 'n groot liefde vir Afrikaanse letterkunde.

Ek het lank gewroeg oor wat ek moes doen.

Ek het lank gewroeg oor wat ek moes doen. Ná weke se selfondersoek het ek besluit om weer van koers te verander en ook 'n honneurs in Afrikaanse letterkunde te doen. Daar was ook maar baie vrae van mense na aan my oor hoekom ek hierdie besluit geneem het, maar die meeste het dit darem verstaan.

Filosofie sal altyd 'n groot deel van my lewe bly, want dit het my geleer om krities te dink. Dit het my ook gehelp om argumente te identifiseer en te bou, om die regte vrae te vra wanneer ek 'n teks lees en ook om die konteks van 'n bepaalde teks of skrywer in ag te neem. Elke skrywer en denker is 'n kind van hul tyd.

As jy dus op 'n laat ouderdom begin studeer het of as jy worstel of jy van rigting moet verander, vra jouself af wat jou droom is. Wat wil jy bereik? Nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

Moenie bang wees om die nodige skuiwe te maak in jou studieloopbaan nie. Solank jy net die eerste tree gee, is dit nooit te laat nie.

Sterkte en voorspoed aan al die studente.

  • Louw Brink het sy BA Honneurs in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat in 2019 voltooi. Hy werk as 'n skryfkonsultant by die UV se Eenheid vir Taalontwikkeling. Louw is besig met sy honneurs in Afrikaans.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy w

onder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Louw Brink, Universiteit Van Die Vrystaat

SPELETJIES VANDAG

CTA