Die Student

Ons moet almal soos juffrou Moodaley wees

Barbara Moodaley
Barbara Moodaley

Vrywilligerwerk gee jou die geleentheid om iemand se lewe te verander, insluitend jou eie.

Dit verg 'n onselfsugtige persoon om in die inperkingstyd so iets aan te durf, want jy stel jouself bloot aan 'n virus wat soveel mense se lewens raak of eis.

Barbara Moodaley, 'n inwoner van George, werk as 'n onderwyseres by Kretzenshoop Primêr aan die voet van die Outeniekwaberge. Sy het tot onlangs as die waarnemende hoof gedien en groot skoene agtergelaat om te vul.

Om oor die ouderdom van 60 te wees in hierdie tydperk het eintlik teen jou begin tel, omdat jy meer vatbaar is vir die koronavirus, maar dit het nie vir Juffrou Moodaley gekeer nie.

Sy het haarself beskikbaar gestel aan die begin van die inperkingstyd om kospakkies aan behoeftige leerlinge en inwoners in die gemeenskap van Blanco te voorsien. Haar welwillendheid ken geen perke nie en sy skroom nie om ander wat slegter af is te help nie.

Hoeveel van ons sou verskonings gehad het as iemand ons sou vra om deel te wees van 'n groep vrywilligers? Die heel eerste verskoning sou ons gesondheid wees.

Dit is juis daardie kenmerk van haar wat haar anders maak as die meeste mense - die feit dat haar heel eerste reaksie is dat sy wil help, terwyl sy niks terugverwag nie.

Demi Michelle Pots
Demi Michelle Pots

My oupa het drie maande gelede gesterf. Hy was iemand wat daarvan gehou het om ware stories te vertel en die meeste van sy verhale het gehandel oor mense wat niks gehad het nie, maar steeds vir ander gegee het. Dít is hoe 'n gehegte gemeenskap gevorm word.

In die gemeenskap van Blanco is daar soms onenigheid, maar in tye van nood is daar 'n hegte band wat soos 'n silwer randjie om 'n donker wolk verskyn. Daarom is ek seker dat 'n paar inwoners in hierdie tyd die inisiatief geneem het om ook te deel met hul medemens - juis omdat sy hulle geïnspireer het.

Behalwe dat haar kospakkies as liggaamlike voeding gedien het, het haar woorde en dade as geestelike voeding gedien. Hoeveel van ons het nie net 'n woord van bemoediging nodig gehad toe die koronavirus ons wêreldjie soos 'n meteoriet getref het nie? Soveel mense het weer die geleentheid gekry om gehaltetyd saam met hul families deur te bring, maar wat van dié mense wat niemand het nie?

In tye van nood besef ons altyd dat ons almal familie is en daarom kom dit instinktief om vir ander om te gee. Daar is baie wat ons kan neem uit hierdie welwillendheidsdaad: Mense se dade is die Bybel waarvolgens hulle leef.

Weer, om te gee is tweede natuur vir sekere mense, terwyl daar ander is wat nie uit hul gemaksone wil beweeg om ander te akkommodeer nie. Ek streef daarna om uit my gemaksone te beweeg en ander te help met 'n rein hart, sonder om enigiets terug te verwag.

Ek streef daarna om meer as net liggaamlike voeding te bied aan mense in nood, maar geestelike voeding ook. Dit neem regtig net een persoon om ons persepsie te verander.

Zozi Tunzi het gesê: "Take up space." En Juffrou Moodaley is 'n vrou wat daardie woorde uitleef. Mag ons almal soos sy wees en ons medemens liefhê nes onsself.

  • Demi Michelle Potts studeer onderwys aan CPUT se Wellington-kampus.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir 'n kompetisie waar Die Student vir studente gevra het om 'n meningstuk oor 'n lockdown-legende te skryf. Die wenner stap weg met R5000.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Demi Michelle Potts, Cput

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM