
Ek het myself nog nooit eintlik as 'n skrywer geklassifiseer nie, maar in hierdie inperkingstyd het elke Jan Rap en sy maat mos ewe skielik in skrywers verander. Elkeen met 'n opinie sterker as die vorige een asof die sogenaamde generasie Z geprogrammeer is om altyd iets te sê te hê.
Met die begin van die semester, terwyl ek myself begin speen het van sosiale media, het dit my tussen die oë getref: Ons generasie kan nie sonder sosiale media nie. As ons selfoonskerms aangaan, soek ons vingers dadelik na Instagram.
So skuil ons daagliks agter ons selfoonskild terwyl ons pyle van swart blokkies en skilpaaie wat aan plastiek verstik, afskiet. Ons laat dit voorkom asof ons enige oorlogsveld sal betree met slegs ons selfoonskild voor ons. So word elke pyl van negatiwiteit afgeweer met slimmer kommentaar of ons jongste opinie. Elke honger kind of slagoffer van geslagsgebaseerde geweld of plaasaanvalle word in ons oë gered deur 'n vinnige storie te deel of 'n slim opskrif te skryf vir jou nuutste plasing op Instagram.

Ons skep die perfekte wêreld aan die ander kant van ons selfoonskild vol van vrouebemagtigingsaanhalings en Bybelversies. Ons maak aan almal bekend hoe ons kos vir die mense by die sopkombuis gee of hoe ons week na week met kindertjies gaan speel by kinderhuise.
Aan die anderkant van die skild is die gras nie altyd so groen nie en alles wat nie deur Lightroom of Facetune reggestel kan word nie, sal nooit op sosiale media verskyn nie.
Ongelukkig as ons sprokieswêreld-glaskasteel wat geskep word deur sosiale media verdwyn, word al ons simpatie en medelye vir mense ook iets wat net in feëverhale bestaan. Dan word elke honger kind by die verkeerslig met 'n kwaai kyk verjaag en die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld het dan ewe skielik volgens ons daarvoor gesoek.
Die verbrokkeling van die glaskasteel word gewoonlik gevolg deur die verdwyning van die selfoonskild. Dan is nie net ons generasie se byt skoonveld nie, maar ons blaf ook. Elke sterk opinie en al die bitsige kommentaar oor die deurmekaar wêreld verdwyn sodra ons dit van aangesig tot aangesig moet betree.
Die onvermydelike realiteit is dat al die kommentaar en opinies selde is hoe ons regtig voel. Ons generasie is so bang dat die wêreld 'n kykie kan kry na wat werklik agter die skild aangaan dat selfs ons opinies probeer voldoen aan die samelewing se onrealistiese standaarde. Dag in en dag uit weer ons pyle af wat dreig om die wêreld se perfekte persepsie van ons te vernietig.
Ek wonder soms hoe anders ons generasie sou gewees het as ons sonder 'n selfoonskild grootgeword het. Sou ons dan die moed gehad het om al ons bitsige opmerkings wat ons daagliks die wêreld instuur vir mense in lewende lywe te sê?
Ek is ook nie onskuldig nie en tik selfs soms bitsige kommentaar, maar gelukkig weet ek dat jy niks onnadenkend die wilde en woeste wêreld moet instuur nie. Dit verskaf vir my ure se vermaak om te sien hoe mense agter hul selfoonskild kan skuil, terwyl hulle wyd en syd kommentaar die wêreld instuur, maar te bang is om hulle eie opinies te lug sodra hulle mense in die oë moet kyk weg van selfoonskerms af.
Hiermee daag ek jou uit, laat sak daardie skild, wees dapper en takel die wêreld van aangesig tot aangesig met jou eie sienings en oortuigings. Moenie dat sosiale media met sy vals eksieperfeksie-voorkoms jou uniekheid steel nie.
- Alet Louw studeer verpleging aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus. Sy het op 'n plaas buite Williston in die Noord-Kaap grootgeword.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















