Wat gebeur as fassinasie in 'n obsessie verander en mense se lewe op die spel is?
Dit is waaroor die moordraaiselriller-fliek I Am Not a Serial Killer handel. Dit is gegrond op die gelyknamige boek deur Dan Wells.
Die fliek speel af in Clayton, 'n stil plattelandse en nywerheidsdorpie in die Amerikaanse Middeweste waar almal mekaar goed ken en plaaslike nuus so vinnig soos 'n veldbrand versprei.
Die dorp word geruk deur 'n reeks moorde wat almal vermoed die handewerk van 'n reeksmoordenaar is. Wat hierdie gevalle ongewoon maak, is dat elke liggaam 'n spesifieke orgaan vermis, en elke keer 'n ander een.
Die kykers word voorgestel aan John Cleaver (vertolk deur Max Records), 'n hoërskoolleerling wat soms uithelp om lyke te balsem in sy gesin se begrafnisonderneming.
Voeg daarby dat hy klinies gediagnoseer is as 'n sosiopaat, met sy eie stel "reëls" om homself te keer om skade te berokken aan ander mense, intelligent is met 'n belangstelling in reeksmoordenaars, en jy het 'n onkonvensionele, maar welmenende protagonis.
Hy is natuurlik nie alleen in sy interne konflik nie: hy besoek gereeld sy voëlkykerterapeut (die sessies vind meer buite as binne die spreekkamer plaas), sy eksentrieke vriend Max wat hom aanvaar soos hy is, en sy gesin (sy ma, tante en ouer suster) wat hom liefhet en ondersteun.
Al die voorafgenoemde individue weet van sy diagnose, en probeer om hom te verstaan, al is dit soms moeilik.
Hoe meer slagoffers daar is, hoe meer vrae ontstaan.
Die aard van die moorde trek sy aandag en hy word betrokke by die gevaarlike soektog na die moordenaar. Hoe meer slagoffers daar is, hoe meer vrae ontstaan. Is dit 'n mens, 'n dier, of iets anders wat die moorde pleeg? Hoekom is daar 'n swart slykpoel by elke misdaadtoneel?
Wat het die moorde in gemeen met 'n vermiste persoon wat dekades vroeër verdwyn het? En wat weet John se bejaarde buurman, Mr Crowley (vertolk deur Christopher Lloyd), van die rits moorde?
Records lewer 'n merkwaardige vertoning in die hoofrol as 'n karakter wat in stryd is met homself om sy donker impulse te onderdruk, terwyl hy ook aan tienerangs ly.
Die kyker word ook daaraan herinner dat John potensieel beheer kan verloor, en dat dit uiterste wilskrag kos om dit te verhoed.
Hy is ook nie 'n wannabe en edge-lord wat bestem is om 'n moordenaar te word nie; hy wil die regte ding doen ten spyte van sy toestand.
Dit is duidelik dat hy 'n morele kompas het, maar die mistigheid van sy psige skep vir hom uitdagings om op die regte pad te bly.
Lloyd wyk in die rol van Mr Crowley, 'n beskeie maar enigmatiese inwoner van die dorpie, af van die akteur se gewone komediese rolle, waarvan die Back To The Future-trilogie 'n voorbeeld is. Hy verdwyn só in die rol dat 'n mens wonder of sy karakter regtig meer weet as wat hy voorgee. Een oomblik is hy heel normaal en bring tyd deur saam met sy geliefde vrou, en die volgende oomblik dra hy poësie voor van William Blake, wat John (en die kykers) ongemaklik maak.

Op 'n estetiese vlak word veel bereik met die produksiegehalte van die fliek, gegewe die beperkte begroting. Dit is soortgelyk aan 'n onafhanklike film, met baie waagmoed en oortuiging.
Die film neem homself nie te ernstig op nie, met droë humor wat regdeur die film versprei is, net wanneer die kyker 'n blaaskans nodig het van al die intriges.
Die tempo van die fliek is van pas, soos die raaisel vele draaie en kinkels oplewer.
Die fliek wil nie alles op een slag op die gehoor plaas om in te neem nie, maar liewerste sistematies, soos die verhaal sy loop neem.
Subtiele detail en verfilmingstegnieke word ingespan, soos om tydsverloop aan te dui deur middel van die viering van sekere vakansiedae en seisoene, karakters se gedrag, en so meer, maar dit vereis oplettendheid van die gehoor.
Daar is ook 'n poging om 'n subtema te ontwikkel (as 'n mens dit so kan noem) waar Brooke (Lucy Lawton), een van John se klasmaats, aangetrokke voel tot hom en met hom kommunikeer, maar dit gaan nêrens heen nie.
Die verskeie tonele waar hulle saam is, en met mekaar praat, dra amper niks by tot die fliek of die karakterontwikkeling nie.
Jy kan dit uit die fliek laat, en dit sal niks verander nie, maar dit moet bygesê word dat die aktrise die rol goed vertolk het met wat vir haar gegee is, al is dit met beperkte skermtyd.
Die rolprent skep sekere verwagtinge, maar verras telkens die gehoor met onvoorspelbare verwikkelings om hulle opnuut te boei en op die punt van hul stoel te hou. Selfs teen die einde van die fliek word jy gelos met meer vrae as antwoorde, wat 'n goeie rede is rede is om die fliek weer te kyk om te sien of jy dalk iets gemis het.
Finale uitspraak: 4,2/5
- Jan-Hendrik het pas sy BA Joernalistiek aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
















