Roe vs. Wade: Houston, ons het ’n probleem

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nikita Dillon Foto: Verskaf
Nikita Dillon Foto: Verskaf

As jy nie onder 'n klip bly nie, sou jy oral op sosiale media en in die nuus oor die verandering van die beroemde Roe vs. Wade-saak gesien het wat in 1973 in die Amerikaanse hoë hof was.

Norma Leah Nelson McCorvey, ook bekend onder die skuilnaam "Jane Roe", was swanger met haar derde kind, en is verbied om 'n aborsie in Texas te kry.

Net mediese beëindiging van 'n swangerskap wat nodig is om 'n ma se lewe te red, was wettig.

Roe het 'n saak aanhangig gemaak teen Henry Wade, destyds Texas se prokureur-generaal.

Maar op 24 Junie vanjaar het die hof besluit om die besluit om te keer en te verander.

Die hemel juig, maar hier op aarde is dit chaos. Jare van waninligting en wanbestuur van so 'n ongelooflik belangrike saak het uiteindelik breekpunt bereik.

Dis belangrik om te weet dat die woord aborsie gedefinieer word as die opsetlike beëindiging van 'n swangerskap.

Die omverwerping van Roe vs. Wade beteken nie dat vroue met dodelike mediese toestande uitgesluit sal word nie. Ektopiese swangerskappe is nie gedefinieer as 'n aborsie nie, want dis nie 'n opsetlike verwydering van jou baba nie. Dieselfde geld miskrame en elke liewe ander lewensbelangrike medies noodsaaklike ingrepe.

Wanneer ons gereeld in die strate gil dat ons vroue gaan doodmaak, kan ons asseblief naïewe, konserwatiewe Sannie in ag neem wat in die kerk grootgemaak is, getroud is en 'n ektopiese swangerskap ervaar. Omdat sy op Instagram gelees het dat ektopiese swangerskappe ook geld as aborsies, weier sy in haar onkunde die lewensbelangrike operasie, en sterf.

Norma McCorvey ook bekend as "Roe" (regs) met die prokureur Gloria Allfred by 'n betoging in 1989 wat aborsies bevorder.
Norma McCorvey ook bekend as "Roe" (regs) met die prokureur Gloria Allfred by 'n betoging in 1989 wat aborsies bevorder. (Galella/WireImage)

Daar word van geen spesialis verwag om hierdie vroue weg te wys nie. Verder is die aanslag op toestande tydens swangerskap ook nie 'n rede nie. Moderne mediese ingrypings is ongelooflik. Ek self het 'n swangerskap met komplikasies oorleef. Daar was nie een keer 'n rede vir 'n spesialis om tussen my en my baba te kies nie. Medisyne en gereelde monitering het ons gehelp om twee pragtige seuns in die wêreld te bring.

Terwyl jy gil oor die vroue wat verkrag is, onthou dat net 3% van die totaal geld vir verkragtingsgevalle. Dat die meeste vroue verkies om hul babas te hou.

Statistieke toon dat meer as 75% van aborsies om sosio-ekonomiese redes is. Statistieke oor aborsies:

40% lys finansiële redes;

36% sê dis nie die regte tyd nie;

31% sê hul lewensmaat het dit versoek;

29% sê hulle moet op hul ander kinders fokus.

Dalk is dit nie aborsies sonder perke wat Amerika nodig het nie.

Dalk is dit hervorming as al die beroemdes wat soveel geld aan "planned parenthood" skenk, wat hulle nie aan ander organisasies skenk nie, wat vroue help om hierdie probleme op te los?

Soos die organisasie Live Action, toegewyd aan hierdie onderwerp. Hulle bied hulp, opvoeding en ondersteuning aan ma's wat hulle in enige posisie bevind.

Behalwe dat Planned Parenthood se stigter, Margaret Sanger, 'n duister verlede met rassisme het, is die gevolge van aborsies aaklig.

Lewenslange gevolge soos verhoogde risiko vir premature geboorte, infeksie, onvrugbaarheid en swak geestesongesteldheid.

Ondersteun ons regtig vroue met wettige aborsies, of smeer ons net 'n probleem toe waaroor ons nie regtig wil praat nie?

Meer as 81% van vroue wat aborsies ondergaan, sal geestesongesteldheid soos depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring opdoen. Soms permanent, soms tydelik.

Mense sê "pro-lifers" moet verantwoordelikheid neem vir die kinders. Het jy geweet ongeveer 626 000 aborsies vind jaarliks plaas, en 2 miljoen families wag om 'n baba aan te neem?

Moet vroue regtig opgesaal word met lewenslange spyt? Ek dink nie een vrou sal ooit hierdie ervaring vergeet nie. Die pyn sal vir ewig daar wees.

Ondersteun ons regtig vroue met wettige aborsies, of smeer ons net 'n probleem toe waaroor ons nie regtig wil praat nie? Vat jy ná die tyd verantwoordelikheid vir jou vriendin wat 'n aborsie ondergaan het? Want sy is 65% meer geneig tot selfdood.

In plaas van kwaad wees, kom ons ondersteun die vrou en die baba. Kom ons maak die juk ligter, vat die las van haar skouers af. Skenk geld aan die regte organisasie wat haar nie sal dwing om te kies tussen haar baba of kos op die tafel nie.

Ons skuld baie meer aan vroue. Kom ons sit die optog-plakkate neer, skud onsself 'n bietjie wakker en loop langs hierdie vroue, vat hul hande met al die emosie, liefde, verstaan en deernis wat hulle verdien.

Bronne:

USA Today

CDC

BMC Womens healthhttps://www.cdc.gov/reproductivehealth/data_stats/abortion.htm

Palmbeach WC

The Life Institute

  • Nikita studeer regte aan die Universiteit van New England in Australië, waar sy nou woon.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukkie hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Nikita Dillon, Universiteit van New England

SPELETJIES VANDAG

CTA