Roe vs. Wade: 'Ons moet begin verantwoordelikheid neem'

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mense betoog nadat die Roe-versus-Wade-beslissing tersyde gestel is. Foto: Gallo Images
Mense betoog nadat die Roe-versus-Wade-beslissing tersyde gestel is. Foto: Gallo Images

Met die omkeer van die Roe vs. Wade-uitspraak van 1973 deur die Amerikaanse hooggeregshof het 'n wêreldwye debat oor die gebruik, of meer die misbruik, van die mediese proses van aborsie ontstaan.

Wat voorheen nie 'n normale tema in alledaagse gesprekke was nie, word nou sommer wêreldwyd in die werksplek, skool, kerk en op politieke byeenkomste bespreek.

Voordat ek enigsins verder my mening oor aborsie lug, wil ek dit duidelik maak dat hoewel ek oor geen mediese agtergrond of kennis beskik nie, voel ek dat ek as vrou en jeug die vrymoedigheid mag hê om my mening oor die saak te kan lug.

Ek wil wel jou as leser versoek om met 'n oop hart en gemoed my meningstuk te lees, al stem ons nie saam nie.

Amper 50 jaar het die Amerikaanse wetgewing vroue die reg gegee om swangerskappe te beëindig en het die res van die wêreld, Suid-Afrika ingesluit, in hul voetspore gevolg.

Aborsieregte-aktiviste betoog voor die Amerikaanse federale hof in Washington.  Foto: Reuters
Aborsieregte-aktiviste betoog voor die Amerikaanse federale hof in Washington. Foto: Reuters

Die 1973-uitspraak het die samelewing wêreldwyd in twee verdeel en dit is vandag steeds die geval.

Daar is verskeie argumente waaroor ons vandag kan debatteer wanneer dit by aborsie kom en of daar ooit 'n situasie is waarin dit as "reg" beskou kan word.

Maar ek wil vandag my argument fokus op die effek wat die wettiging van aborsie op ons as jeug en ons aanvaarding van aanspreeklikheid het.

Die mensdom het 'n tekortkoming - ons vermy dit sover moontlik om verantwoordelikheid of aanspreeklikheid te aanvaar.

Aanspreeklikheid en ons gewete loop hand aan hand en dit word aangetas deur die regering se besluit om aborsie wettig te maak.

Ons wys baie maklik vinger of plaas die blaam vir ons keuses en optrede op iets of iemand anders. In die geval van swangerskappe wat ontstaan het weens konsensuele seks, het mense die neiging om te sê: "Ek kan 'n aborsie kry omdat dit wettig is, daarom is dit reg."

Ongelukkig werk dit nie só nie.

'n Week of wat gelede het ek aan Die Student geskryf en die volgende gesê: "Aborsie is soos 'n uitveër vir foute wat die jeug van vandag maak. Ons neem nooit verantwoordelikheid of aanvaar aanspreeklikheid vir ons keuses en aksies nie - daar is altyd 'n plan B of 'n ‘undo'-knoppie."

Tarien Blignaut Foto: Verskaf
Tarien Blignaut Foto: Verskaf

As tieners en studente wil ons seksueel aktief wees omdat die media, die samelewing, ons ouers en vriende sê dat dit "reg" is en omdat ons "in" wil wees, maar is ons nie bereid om die gevolge daarvan te dra nie.

Baie mense sal dan argumenteer dat tienerouers en jong studente dit nie kan bekostig om na 'n baba om te sien nie, of vir hulle die lewe kan gee wat hulle behoort te hê nie, en daarom is aborsie aanvaarbaar.

My mening is as jy "grootmens"-keuses wil maak, moet jy met die "grootmens"-nagevolge kan saamleef en dit aanvaar.

Teen hierdie tyd moet ons as tieners en studente logies kan redeneer oor die besluite wat ons neem en besef dat die natuurlike, potensiële gevolg van seks wel swangerskap is ongeag van enige voorbehoeding wat gebruik mag word, aangesien niks 100% is nie.

Die mensdom het 'n tekortkoming - ons vermy dit sover moontlik om verantwoordelikheid of aanspreeklikheid te aanvaar.

Ons kan nie roekeloos wees en doen wat ons wil, wanneer ons wil nie. Jy moet bewus wees van die impak van keuses op jou, jou finansies en jou toekoms en vooraf besluit of dit 'n risiko is wat jy kan bekostig om te neem.

Ons maak misbruik van die wet se voorsiening vir aborsies omdat ons weet dat as ons voortgaan en leef en maak soos ons wil, en dinge loop skeef, is daar 'n uitweg, 'n uitveër wat ons fout(e) kan wegsteek, 'n opsie wat die wet daar stel vir ons. Oor en oor en oor word dit makliker om dit vir 'n tweede, derde of vierde keer te doen.

Só verloor ons ons respek vir nuwe lewe, kinders en swangerskap as geheel.

Hoewel ek heeltemal daarteen gekant is, moet die besluit om 'n aborsie te kry een van die moeilikste besluite ooit wees, ongeag in watter stadium van die swangerskap iemand haar bevind.

Om lewe te neem moet altyd een van die moeilikste besluite wees.

Hoewel die Bybel nie meer beskou word as 'n erkende bron nie, gaan ek steeds daarna verwys. Jeremia 1:5 sê: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken."

  • Tarien studeer BComm Finansiële Rekeningkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

Tarien Blignaut, Unisa

SPELETJIES VANDAG

CTA