Die Student

Skoolstelsel ‘laat baie in die steek’

Matrieks tydens die eindeksamen.
Matrieks tydens die eindeksamen.

As 'n toekomstige onderwyser lê ek soms tot laat en wonder hoe ek kan help om te verseker dat kinders die gehalteonderrig kry wat hul verdien, en hoe om hulle te help om hul drome en potensiaal ten volle te bereik.

Die een ding wat my egter die meeste bekommer is hoe ek kan verseker dat die leerlinge wel iets uit die stelsel kry. Ek hoor gereeld jongmens-gesprekke waar die vraag gevra word: "Wat het die 12 jaar van onderrig vir jou beteken?" En dan is die antwoord altyd min of meer dieselfde: "Ek het 12 jaar van my lewe gemors," of "Ek kon eerder 12 jaar gebruik het om myself te vind en te kyk wat my gawe is en daarin belê het - dan was ek seker al ver in die lewe."

Dit maak seker ook sin. As iemand vir my moet vra wat ek kan onthou van wat ek op skool geleer het, sal ek definitief die toets druip, want ek kan letterlik niks meer onthou nie. Dit is by die een oor in en by die ander uit. Maar 'n gesprek oor die "vermorste" 12 jaar is tog sinvol, want wat het die stelsel jou nou eintlik vir 12 jaar geleer? Help dit jou in jou daaglikse take? Help dit jou om sekere dinge in die lewe te bereik? Het wiskunde se x en y enigsins nuttig te pas gekom in jou lewe, of was dit ook maar net nog 'n mors van tyd?

'n Mens kan natuurlik nie die onderwysers hiervoor blameer nie, want hulle onderrig maar net dit wat vir hulle deur die kurrikulum en die departement van onderwys voorgeskryf word.

Andersyds is daar ongelukkig nie genoeg tyd om aandag te gee aan ander kwessies of onderwerpe soos lewenslesse nie, want daar is hopeloos te veel ander inhoud wat gedek moet word. Van die inhoud moet soms kortgeknip word om minstens aan alle aspekte aandag te gee en die nodigste aan die leerlinge te onderrig. Let wel, dis nou in die openbare skole wat gebruik maak van die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring, ek weet nie wat die geval by private skole is nie.

Hoewel die Suid-Afrikaanse kurrikulum al 'n paar keer verander en daarna 'n hele klomp keer hersien is sedert die land in 1994 'n demokrasie betree het, is dit jammer dat die veranderinge steeds geen beduidende verandering in ons kinders se lewe maak nie. Behalwe dat dit jou 'n inleiding gee tot die basiese beginsels van lees en skryf en hoe om die x en y op te los, is daar definitief nog 'n groot leemte en klomp behoeftes.

Ek sit en lees nou die dag die artikel in die Rapport oor die dood van die Paarlse tienermeisie Zara Malherbe wat haar eie lewe geneem het. En in haar brief aan een van haar oudonderwysers skryf sy iets oor skoolgaan:

"Wat is die punt van enigiets? Ons skryf toetse en leer dinge en worry oor nuttelose goed, om watter rede nou eintlik?! Skool het die laaste bietjie uit my uitgevat. Ek's moeg daarvoor om te voel asof ek dom is en niks gaan bereik nie."

Dit het my nogal baie laat dink. Ek ken baie jong mense wat hulle hiermee kan vereenselwig. Ons leerlinge soek meer as om net 'n handboek uit die kop te leer en weer soos 'n papegaai weer te gee. Hulle soek iets wat hulle gaan vul, iets wat hulle laat voel hul doen die regte ding, iets wat hulle laat voel dat hul wel hul drome en hul passie uitleef.

Dit word ongelukkig nie in die kurrikulum gedoen nie. Ons verwag dat almal soos robotte dieselfde inhoud moet verwerk en dan neerpen, wat natuurlik onsin is. Ons is nie almal dieselfde nie. En dit kan ook grotendeels wees hoekom ons leerlinge so leeg voel, en hoekom jy by leerlinge hoor dat hulle besig is om tyd te mors terwyl die lewe so kort is.

Daar is nog baie werk om ons kurrikulum toegankliker en gepas te maak vir die nuwe generasie leerlinge. En ek dink die nuwe generasie onderwysers is in die beste posisie om veranderinge aan te dryf. Ons kom reeds uit hierdie skoolstelsel, ons weet wat die leemtes is - ons kan dus hiermee aan moontlike oplossings dink en die cool terugsit in school!

  • William Sezoe studeer onderwys aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

William Sezoe, Universiteit Stellenbosch

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM