Moederstad. Dis hoe Kaapstad in die volksmond bekend staan. Maar, daar is niks moederlik aan 'n stad wat van een kind vis en van die ander vleis maak nie!
En, néé, nou praat ek nie eers van die stadsbase se arbitrêre wette wat daarop gemik is om hawelose mense verder te onderdruk nie. Ek verwys na die rasse-profilering en rassediskriminasie wat nog hoogty vier in die eiendomsektor.
Die uwe wil dramaties wees en sê dat dit absoluut skokkend is, maar ons almal weet só 'n stelling sou só ver van die waarheid af wees soos wat die ooste van die weste verwyder is.
Teen hierdie tyd behoort die meeste van ons al bewus te wees van die herrie wat hierdie week losgebars het toe 'n voornemende huurder 'n eiendomsagent gekontak het oor 'n plasing vir 'n tweeslaapkamerwoonstel.
Die eiendomsagent het in 'n WhatsApp-boodskap aan die voornemende huurder gesê dat die woonstel vir 12 maande te huur is. Die volgende dag, nadat die voornemende huurder verskeie opvolgboodskappe gestuur het, het die eiendomsagent gesê: "Die kliënt is rasspesifiek. Ek wil graag hê jy moet huur, maar sy is moeilik."
Toe die voornemende huurder haar daarop wys dat dit ongrondwetlik is, het die eiendomsagent bloot gesê: "Dit is nie onwettig hoe 'n verhuurder hul huurder kies nie. Dit is nie ons skuld nie," voordat sy vir die voornemende huurder aangeraai het om 'n ander woonstel te soek.
Voordat die grondwetkenners my stenig, ek is terdeë daarvan bewus dat die meeste van ons menseregte beperk kan word.
Art. 9(4) van ons Grondwet bepaal dat geen person mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.
Voordat die grondwetkenners my stenig, ek is terdeë daarvan bewus dat die meeste van ons menseregte beperk kan word. Maar, voordat dit gedoen kan word is daar eers 'n buitengewone en moeilik haalbare prosedure wat gevolg moet word, soos uiteengesit in die uitspraak in die saak van Harksen vs Lane.
Dit kom neer op drie stappe, soos vervat in 'n artikel getiteld "Die beperkings van regstellende gelykheid" deur F. Venter.
Die stappe kan as die beantwoording van die volgende drie vrae (in volgorde) opgesom word:
(a) Differensieer die gewraakte handeling tussen mense of kategorieë mense?
(b) Indien wel, kom sodanige differensiasie neer op onbillike diskriminasie?
(c) As die teenwoordigheid van onbillike diskriminasie vasgestel is, kan die gewraakte handeling ingevolge die beperkingsbepaling (art. 36) geregverdig word?
Art. 36 van die Grondwet is alombekend as die beperkingsklousule, en verg dat sekere faktore in ag geneem moet word wanneer 'n reg in die Handves van Regte beperk word.
Meeste van ons sal saam stem dat daar in die geval tussen kategorieë mense gedifferensieer is, wat uiteindelik neerkom op onbillike diskriminasie aangesien dit diskriminasie op 'n genoteerde grond is kragtens art. 9(4) van die Grondwet. En, nee, daar is geen wettige doel agter die onbillike diskriminasie nie, en daarom sal die inbreuk wat op die voornemende verhuurder se reg op gelykheid gemaak is nie die interne toets kragtens art. 36 slaag nie.
Die feit dat die agentskap nie die blatante rassisme op die naam kan noem nie, en net daarna as 'n 'situasie' verwys, sê baie.
Die eiendomsagentskap het intussen bande met die verhuurder verbreek, en die betrokke eiendomsagent het van werkgewer verander. Haar huidige werkgewer het die situasie ten sterkste veroordeel en het haar van haar pligte onthef hangende 'n interne ondersoek.
Dit is egter kodetaal vir "ons wag tot die storm oorgewaai het waarna sy terug op kantoor sal wees". Die feit dat die agentskap nie die blatante rassisme op die naam kan noem nie, en net daarna as 'n "situasie" verwys, sê baie.
Hierdie gedrag is ongrondwetlik en handhaaf ruimtelike apartheid in die stad. Hierdie "situasie" is deel van 'n veel erger sistemiese probleem, en ons behoort daarom daadwerklik aan meer en beter strafmaatreëls te werk om te voorkom dat meer mense van kleur eenvoudig onderdruk word in die verhuring van eiendomme in die stad wat grotendeels deur voorheen bevoordeelde mense besit word.
Eiendomsagentskappe behoort ook voortaan verbied te word om sake te doen met verhuurders wat hulself skuldig maak aan rasse-profielering en diskriminasie. Indien dit nie gebeur nie, sou sulke agentskappe hulself skuldig maak aan dieselfde misdrywe.
In 'n land waar, ná 1994, die argitektuur van apartheid - die skeiding van ryk en arm, swart en wit - met kreatiewe en vasberade stedelike beplanning uitgewis moes word, is dit duidelik dat eiendomseienaars deel is van die probleem.
En, hierdie verskynsel is 'n tikkende tydbom met 'n ongeduldige jeug wat skree vir inklusiwiteit en toegang tot geleenthede in 'n samelewing wat nog steeds genees van die blywende wonde van apartheid.
- Timothy Nel is 'n nagraadse regstudent verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy in korporatiewe finansies en bestuur en internasionale handelsreg spesialiseer. Hy is oorspronklik van Ebenhaeser, sowat 30 km buite Vredendal.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:



















