Die Student

Sý naam is Pieter, Pieter van Rensburg

Pieter van Rensburg
Pieter van Rensburg

Sy naam is Pieter, Pieter van Rensburg. Hy is 'n plaaslike sakeman op ons dorpie, Kurland, in Plettenbergbaai.

Pieter het 'n groot liefde vir mense en tydens die pandemie het hy dit werklik bewys. Armoede is baie groot in ons dorp. Talle mense werk vir klein ondernemings en toeristebestemmings, en lone word elke twee weke uitbetaal. Mense bestee eerder hul geld aan alkohol pleks van kos, en diere word soos vuilgoed behandel en mishandel. Dít is die tragiese werklikheid van my gemeenskap.

Met ondernemings wat toegemaak het weens die virus, en verskeie mense wat sonder werk gesit het, het vrees sy kop begin uitsteek oor wat die volgende stap sou wees.

Pieter, wat al jare lank die plaaslike rugbyspan ondersteun en borg, en enige kans gebruik om die gemeenskap te help, het die angs raakgesien en ingespring. Hy het 'n sopkombuis begin wat elke dag beskikbaar is. Hulle gee selfs ook kos vir honde en katte.

Sy goedhartigheid het nie net daar gestop nie. Hy het my ook bygestaan as 'n ware steunpilaar en my aangemoedig om altyd my alles in te sit. Dit is die soort mens wat Pieter is, en waarom ek hom as die held van hierdie verhaal gekies het.

Simoné Kruger
Simoné Kruger

Met die eerste slag van die pandemie toe ons aanlyn begin werk, het ek baie mismoedig begin raak. Sodra jy klaar kry met die een opdrag, wag die volgende een reeds vir jou. Dit het begin voel asof ons slegs sperdatums jaag en nie werklik iets leer nie. As 'n derdejaarstudent het dit my begin bekommer, want is ek werklik gereed vir wat volgende is? Die antwoord is: Ek weet nie.

Pieter het my raad gegee oor die berg wat ek moes uitklim en vir my gesê om altyd te onthou dat jy jou eie pad kies. Jy kies hoe jou toekoms gaan lyk en daarom moet jy altyd tot die beste van jou vermoë werk om goed te presteer.

Nie baie mense sou doen wat Pieter gedoen het nie, veral omdat hulpbronne tydens die pandemie skaars begin raak het. Ander sou die hulpbronne vir hulself gehou of net met vriende gedeel het. Ons kan nie ontken dat hierdie wêreld baie wreed is nie: Rassisme, bedrog, geweld, diefstal en mishandeling is steeds deel van ons samelewing.

In die verwarde tye is dit maklik om moed op te gee. Nie net met jouself nie, maar ook met ander.

Pieter se dade wys vir ons dat dit nie saak maak wat die kleur van jou vel is nie, of die sosio-ekonomiese klas waarin jy is nie. Ons moet mekaar bystaan en help, veral in hierdie tye van nood. Dit is nou belangriker as ooit dat ons as 'n nasie mekaar moet ondersteun, want dit is net deur almal se samewerking dat ons die virus sal oorwin.

  • Simoné Kruger studeer aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir 'n kompetisie waar Die Student vir studente gevra het om 'n meningstuk oor 'n lockdown-legende te skryf. Die wenner stap weg met R5000.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Simoné Kruger, Universiteit Van Wes-Kaapland

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM