
Ons almal ken die pragtige, intelligente en passievolle Tracey Lange, hetsy dit nou persoonlik is, haar beeldskoonheid op die kassie, haar pragtige stem of aansteeklike lag op radio.
Ek het haar verlede jaar by die Suidoosterfees ontmoet. Daarna het ons mekaar dikwels raakgeloop en ek moet sê dat sy die vriendelikste en mees plat op die aarde celeb is wat ek nog ontmoet het.
Tracey het ook onlangs 'n ring aan haar vinger laat sit deur haar "boyfriend" soos sy hom noem en mev. Mabombo geword. En hoewel die pandemie ons almal se lewe so 'n bietjie verander het, het sy nie tydens die inperking laat slaplê nie.
Toe die president die nasionale staat van inperking op 23 Maart aankondig het, het baie van ons gewonder wat ons met onsself gaan aanvang. Dié abnormaliteit het Tracey nie gekeer om kreatief te wees en daarmee saam haar liefdadigheid te toon nie.
Sy vertel dat sy en haar stilis aan die idee gedink het om te begin brei. Die aanvanklike idee was om net hul hande besig te hou en só te voorkom dat hul nie te veel kou en gewig optel tydens die inperking nie.
"Dit het eintlik as 'n grap begin," sê sy, maar toe sy dit aan die KFM-span vertel het hulle gedink "dis 'n goeie idee" en toe ontstaan daar sommer 'n naam vir hierdie idee, #GeKnitDitMetTraceyLange.
Sy het dadelik aan die brei geraak. "Dit was die eerste keer in 21 jaar dat ek weer begin brei het."
Die eerste paar dae was 'n bietjie moeilik, want sy moes van voor af gewoond raak aan die proses.
"Die eerste paar dae het ek baie pyn gehad, maar toe hoor ek 'n mens moet eers weer breifiks raak," sê Tracey.

Sy het sommer ook vir "boyfriend" aan die werk gesit en hulle het mekaar uitgedaag om te kyk wie die meeste serpe in die 21 dae van inperking kan brei.
"Ek het nege serpies gebrei en "boyfriend" 'n skrale een," sê Tracey.
Sy het later ook aan al haar aanhangers en al die kykers van die televisieprogram Tussen Ons, wat Maandae tot Donderdae op kykNET en Kie uitgesaai word, en waarvan sy 'n medeaanbieder is, gevra om aan die uitdaging deel te neem.
Elkeen moes minstens een serp brei en dit vir haar stuur sodat sy dit later vir 'n tehuis in die Kaapse omgewing kon gee. As hulle dit nie vir haar kon stuur nie kon hulle dit afgee by 'n ouetehuis of iemand in hul gebied wat dit benodig.
"Almal was so honger om iets te doen en net 'n bietjie te vergeet van die abnormaliteit dat hulle onmiddellik betrokke geraak het. Oud en jonk het deelgeneem," sê Tracey.
Die uitdaging het daartoe gelei dat sy meer as 1 000 serpe ingekry het. Dié het sy toe saam met die ‘Tussen Ons'-span aan 'n ouetehuis geskenk. Tracey sê die bejaardes was "diep geraak was deur die gebaar".
Dit was beslis ook nie net 'n eenmalige ding nie. Tracey beplan om die projek gereeld in die toekoms te doen. "Dis 'n bewys dat mense graag iets goeds vir iemand anders wil doen, al is dit iets kleins," vertel Tracey.
Tracey is ook baie bekend vir haar flou grappies. Elke Vrydag is dit floujoke-Friday en dan deel Tracey gewoonlik haar flouste grappies. En met die hele inperking en pandemie was Tracey se grappies beslis 'n bonuspunt om ons almal vir 'n oomblik te laat vergeet van die werklikheid. Sy noem dat die floujoke-idee eintlik by haar pa begin het en dat sy dit deel van haar leefwyse gemaak het om dit te laat voortleef.
Ek dink Tracey is beslis 'n Lockdown-legende - dis nie aldag dat jy 'n bekende sien wat tyd afstaan vir ander wat hulp nodig het nie. Hoewel sy soveel werk op 'n daaglikse basis moet voltooi, het sy sonder twyfel haar hande laat werk om ons bejaardes in die winter warm te hou. Haar liefde, omgee en welwillendheid is iets besonders - iets wat ek en ek glo ander met warm harte altyd sal koester.
- William Sezoe studeer onderwys aan die Universiteit Stellenbosch.
- Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir 'n kompetisie waar Die Student vir studente gevra het om 'n meningstuk oor 'n lockdown-legende te skryf. Die wenner stap weg met R5000.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















