
Noudat die nuwe jaar stadig maar seker begin nader staan, dink ek aan die boere in die droogtegeteisterde gebiede. Die boere wat al vergeet het hoe klink donderweer, en wanneer hulle 'n gedruis buite die huis hoor, dink hulle dit is maar net die voermenger wat aangeskakel word.
Ek is seker baie van hulle kan nie glo dat hulle nog 'n jaar deurgemaak het nie. Ongelukkig weet ek daar is boere wat dit net nie meer kon hou nie en hulle goed moes oppak met die hoop in hul harte dat daar iewers groener weivelde is.
Hierdie is nie die smeekgebed van 'n Karoo-kind vir skenkings aan haar dorp nie, maar liewer die lied van dankbaarheid wat ek in my hart sing. Ek het die voorreg gehad om in 'n klein plattelandse dorpie groot te word. Die tipe plek waar jy almal se name ken, elke volwassene 'n oom of tannie is en waar 'n vreemdeling hanteer word asof jy hulle al jou lewe lank ken.

Die dorpie het my baie dinge geleer. Een van die grootste dinge is dat geen mense ooit van jou huis weggaan sonder 'n botteltjie konfyt, pakkie biltong of 'n roomysbak vol koekies nie.
Soos 'n dief in die nag het die droogte die afgelope paar jare hom hier tussen ons kom tuismaak. Nou is die ongelukkige werklikheid dat hierdie mense, wat altyd in staat was om te gee en gee en gee, nou die mense is wat in rye moet wag vir skenkings sodat hulle nog 'n week of dalk nog 'n maand kan aanhou.
Ek wonder of jy weet hoe dit voel as die natuur stadig maar seker die menswaardigheid van mense wat jy al jou hele lewe lank ken stukkie vir stukkie afbreek. Kan jy jouself indink hoe die boere voel elke keer as hulle 'n lam sien doodgaan omdat sy ma hom nie kan grootmaak nie. Ek wonder ook of hulle weet hoe dit voel as jy jou ma sien huil van dankbaarheid as sy hoor dat nog 'n droogtehulpskenking gemaak is.
Ek onthou hoe my ma ses jaar gelede al vir my gesê het as ek die volgende keer terugkom van die koshuis af, lyk dit hopelik beter. Ek weet hoe dit voel om aansoek te doen vir universiteit en te sien hoeveel jou ouers iewers gaan moet uitkrap net sodat jy hopelik 'n blinker toekoms kan hê. Aan die ander kant weet ek ook hoe my bors warm word van blydskap as my ouers sê dat daar nog 'n oom of tannie is wat gehelp het om die finansiële druk net 'n bietjie ligter te maak.
Boere moet douvoordag opstaan, maar nie om waters om te ry of lyndrade om te stap nie. Hulle staan nou eerder met dankbare harte voor sonsopkoms op om voer vir hul vee en selfs kos vir hul gesinne te kry. Dit word 'n weekliks roetine, as die dorp bevoorreg genoeg is om soveel skenkings te kry, om elke Vrydagoggend in 'n ry te gaan wag vir iets wat net so 'n bietjie die gewig van hul skouers kan lig.
Ek weet ook hoe dit lyk as 'n oom en tannie stomgeslaan staan as hul bakkie vol voer en kruideniersware gelaai word, maar ek ken ook die trane wat dan in hul oë kom as hulle agterkom daar is nie veel meer as net 'n dankie wat hulle kan gee nie.
Ek was bevoorreg om al by 'n hele paar van hierdie tipe voer-uitdelings te kon wees. Dit is onbeskryflik om te sien hoe die mense van die land hul harte oopmaak vir die boere in die droogtegeteisterde gebiede. Boere, hul gesinne en hul vee word elke nou en dan bederf met 'n paar sakke mielies of 'n bederfboksie met kruideniersware. Al is dit een trok voer of tien trokke voer, elke bietjie maak 'n verskil in die lewe van die boere.
Ek weet self 'n hand wat gee, is ook oop om te ontvang en ek weet verseker hierdie bakhand-boere gaan eendag weer kan gee aan die mense wat nou hul hande en harte vir hulle oopgemaak het.
- Alet Louw studeer verpleegkunde op die Tygerberg kampus van die Universiteit Stellenbosch. Sy het op 'n plaas naby Williston in die Noord-Kaap grootgeword.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















