Hoeveel kinders ry nog op hul fietse? Hoeveel tieners werk nog in die tuin? Hoeveel studente verkies nog 'n aktiewe leefstyl? So kan ek aangaan . . . Om nie eens te praat van die ouer bevolking nie.

In ons huidige samelewing neem al hoe minder mense aan fisieke aktiwiteite deel. Ons sien dit oral rondom ons. Die koms van tegnologie en aanlyn winkels is die einde van ons ou begin. Hiermee sê ek nie dat almal weer grawe moet optel en gaan boer of oral stap waar ons moet wees soos dit in die verlede gedoen is nie. Ek dink net ons moet kyk wat gewerk het en dit probeer toepas.
Tegnologie het gekom om ons lewens makliker te maak. Ons hoef nie meer dae lank te wag vir 'n brief om in die pos by ons aan te kom nie, ons weet presies wat in geliefdes se lewens aangaan al bly hulle aan die ander kant van die wêreld. Elke slimfoon het ook 'n bank-appsodat jy self jou sake kan hanteer.
Dit is alles wonderlike toevoegings tot ons lewe, maar daar is 'n groot nadeel. Ons word lui en al hoe minder aktief juis weens die vooruitgang.
Ons verkies veel eerder om 'n reeks soos Game of Thrones te lê en kyk as om buite te gaan stap en die vars lug in te neem. Ons verkies veel eerder om 'n pakkie aanlyn te bestel as om uit te gaan saam met die gesin en pryse te vergelyk en self die produk te gaan uitkies. Ons verkies veel eerder om op sosiale media te lê en tydmors (die meeste van die tyd) as om die plantjie wat ouma vir jou gegee het self te gaan plant.
Al die stilsit en rondlê sonder veel beweging het drastiese gevolge vir ons gesondheid.
Dit is algemene kennis dat 'n leefwyse van sit tot korter lewensduur, verhoogde kanse tot kardiovaskulêre komplikasies asook 'n groter liggaamsmassa lei.

Deur meer aktief te wees beteken dit nie noodwendig dat jy hierdie risikofaktore sal vermy nie, maar ek verkies veel eerder 'n hoër kans op beter lewensgehalte as 'n ekstra bietjie vet rondom my middel.
Ons verhoudings met mense word ook aangetas.
'n Skerm kan net nie die werklikheid vervang wanneer jy met jou buurman gesels terwyl jy verby sy huis stap of oupa bel oor watter kompos jy vir die rose in jou voortuin moet gee nie.
Sodoende leer jy ook nuwe vaardighede aan wat jy nie voorheen sou nie. Dalk vind jy 'n nuwe passie soos naald- of houtwerk nadat jy in die motorhuis gewerskaf het.
Ek sê nie die nuwe uitvindsels is euwels wat uitgeroei moet word nie. Ons moet net sorg dat dit ons nie totaal beheer en keer dat ons die pragtige natuurskoon buite ons vier mure misloop as gevolg daarvan nie. So staan van die stoel af op en beweeg 'n bietjie!
- Schalk Joubert doen tans sy honneursgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video!



















