
Dit is nou wraggies iets wat ek al lank probeer verstaan - klem op probéér - maar ek sukkel om dit lekker vas te vat. Waarom probeer ons altyd vir een kwaad met 'n ander vergoed? En dan nog meer, waarom voel ons so gemaklik met opinies wat al telkens as skadelik bestempel is?
Ons is al so in Amerika se politiek opgekruip dat tot ons ou Suid-Afrikanertjies mekaar al aan die linkse of regse klok hang - die een altyd slegter as die ander, nie waar nie?
Geeneen van ons kan sê ons is onskuldig nie. As jy op sosiale media doenig is, weet wat in die wêreld aangaan, en daaroor praat - wat die meeste van ons doen ongeag waar op die spektrum jy val - dan ken ons die debat.
Daarmee saam kan ons ook nie ontken dat dinge maar persoonlik kan raak as ons nie die goue pad na die wen van die debat sien nie.

Ek verkyk my aan die kommentaarafdelings van so baie Facebook-plasings, en al wat ek dink is, "sjoe maar hierdie mense is katterig", 'n idee wat nie uitsluitlik aan 'n liberale of konserwatiewe deelnemer gekoppel kan word nie.
En as daar nou een ding is wat jy nie kan doen nie, is dit om 'n rassis tereg te wys, want diegene wat so blatant rassisties op sosiale media is, se definisie daarvan is gewoonlik heeltemal ongegrond. Dan help dit nie om jou akademiese agtergrond te gebruik om 'n bietjie lig op die onderwerp te plaas nie, want opinie oorskadu so maklik die feite.
Die ergste van alles is dat die mense rassisme probeer teenstaan met net nog meer rassisme. Waar is die logika dan?
Ek dwaal egter af. Waaroor ek wil praat, is mense se geneigdheid om so ongelooflik (ek gebruik hierdie woord omdat dit werklik iets is wat ek nie kan glo nie) beledigend te raak op sosiale media, en dit oor dinge wat hulle nie in die minste raak nie. Dit laat my ook die integriteit van die media bevraagteken, maar dis 'n onderwerp vir 'n ander dag.
Baie Afrikaanse sosialemediagebruikers kan die volgende etiket om hul nekke hang; "my naam is ________ en ek is 'n kuberboelie". Dis mos 'n onderwerp waaroor die onnies mal was. Ek was egter onder die indruk (was seker simpel of iets) dat net jong mense deel kan vorm van die groep. Mense wat vir jou preek daaroor kan mos nie deel wees daarvan nie, of hoe?
Ek verkyk my aan die kommentaarafdelings van so baie Facebook-plasings, en al wat ek dink is, "sjoe maar hierdie mense is katterig".
Die kopkrapper het duidelik sy kop kom uitsteek, want die kuberboelie-gedrag ontstaan uit die toetsborde van middeljarige Suid-Afrikaners. Is dit 'n arrogansie wat met ouderdom kom? Of is dit verveling? Ek kan nie regtig my vinger plaas op die rede vir mense se aaklige gedrag in die kuberruim nie.
Ek onthou as kind het my pa baie vir my gepreek oor bemoeisiekheid, my kinderlikheid het my telkens in die moeilikheid laat beland - ek was maar die kind wat altyd die hand in die lug gehad het, reg om te klik. Is dit dan wat hierdie gedrag is?
Dit kan sekerlik nie aan dieselfde klok gehang word as my 12-jarige geneigdheid om te klik nie, kan dit? Dan moet dit seker maar toegeskryf word aan kinderagtigheid of hoe?
- Mizanne Hattingh (21) studeer BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
- Volg ons op Instagram en Facebook.
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?
Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.
IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?
Jy kan R10 000 wen!




















