Kom ek begin deur te sê, ek glo nie in samesweringsteorië nie. Ek glo nie dat die regering jou kan jou track deur die inenting of dat die inenting jou DNS verander nie. Ek is ook nie 'n anti-vaxxer nie.
Ek het eerlikwaar geen probleem met die inenting self of mense wat kies om dit te kry nie. As jy glo dit is die beste keuse vir jou en jou gesondheid, wens ek jou al die beste toe. Waarmee het ek wel 'n probleem?
Die gebrek aan vryheid van keuse.
Dié artikel gaan nie probeer om 'n mening op enigiemand af te dwing of om mense te probeer oortuig nie. Dit is slegs om vrae te vra en so die gebrek aan konsekwentheid in die logika van inentingsmandate uit te lig.
Ek bedoel, as ek drie keer in een jaar teen polio ingeënt is en steeds polio kry, sou ek beslis begin vrae vra.
Die Noordwes-universiteit het op 4 Februarie sy studente ingelig dat geen student verplig is om ingeënt te word nie . . . MAAR.
• As jy nie ingeënt is nie, kan jy nie toegang kry tot die kampus, jou klasse of, indien jy 'n koshuisbrak is soos ek, jou huis nie; en
• As jy weier om jou inentingstatus bekend te maak, word jou studentekaart summier gedeaktiveer en jy staar dissiplinêre aksies in die gesig.
Dus het ons nou beweeg van "Three weeks to slow the spread" na "Three jabs to keep your job" of jou graad in dié geval. En ek vra net hoekom?
Is jy nie eintlik meer geneig om die virus te versprei as jy geen simptome toon en dus nie agter kom dat jy geïnfekteer is nie?
Die antwoord is beslis nie om jou medemens te beskerm nie, omdat dit nou al algemene kennis is dat die inenting nie keer dat jy Covid kry of versprei nie. Dit verminder net die erns van die simptome. So wie beskerm jy nou eintlik? Is jy nie eintlik meer geneig om die virus te versprei as jy geen simptome toon en dus nie agter kom dat jy geïnfekteer is nie?
Weer, as jy bang is vir die virus en glo dit stel jou gesondheid in gevaar, gaan kry asseblief die prik so gou as wat jy kan. Maar hoe beskerm my prik jou as jy nie eens glo dat jou eie een jou beskerm nie?
Dan word natuurlike immuniteit ook verontagsaam. Die Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming het bevind dat natuurlike immuniteit (dit wat jy ontwikkel indien jy reeds Covid gehad het) amper drie keer meer doeltreffend is as die inenting om hospitalisasie te voorkom en amper vyf keer meer om Covid-infeksie te voorkom.
So, as 'n mens die logika van die mandate volg, word jou medemense drie tot vyf keer beter beskerm wanneer jy reeds Covid gehad het.
. . . selfs medikasie wat al jare lank goedgekeur is, kan onverwagte nagevolge vir mense inhou.
Dan is die ongekende newe-effekte op die lange duur ook belangrik om te noem. Ek besef die inenting is gegrond op dekades se wetenskap, maar selfs medikasie wat al jare lank goedgekeur is, kan onverwagte nagevolge vir mense inhou. Waar is die beskerming vir hierdie gevalle?
Ek klink seker al soos 'n stukkende platespeler, maar ek herhaal, ek is glad nie gekant teen die inenting en die bevegting van hierdie pandemie nie.
Art. 36 van die Grondwet bepaal egter dat regte slegs beperk mag word as die beperking redelik en regverdigbaar is. Dink jy dat die redelike man sal glo om jou werk of graad te verloor omdat jy die logika en veiligheid van inentingsmandate bevraagteken, regverdigbaar is?
- Marelize is 'n nagraadse student in geoktrooieerde rekeningkunde aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier!
- Volg ons op Instagram en Facebook!
WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:





















