Wees maar jou eie held, verwag min van ander

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jerome Coetzee
Jerome Coetzee

Ek skryf uit Bishop Lavis. Ek het onlangs geleer dat ek alewig hande klap vir ander, maar vergeet van myself. Ek loop die ekstra myl vir ander mense, maar sommige gee nie eens een tree na my toe nie.

Hierdie les het ek onlangs op die harde manier geleer. 'n Goeie en groot gebeurtenis was op my voorstoep. Ek wou dit uitbasuin.

Vir baie sal dit niks of klein wees, maar dit het baie vir my beteken. Soos die Bybel sê - wees bly saam met dié wat bly is - maar dit was dalk te veel gevra vir my naastes.

Dalk is dit die naïwiteit van die jeug, maar iets in my het verwag dat 'n paar mense nader sou staan en my ondersteun. Maar 'n ander prentjie het vorm gekry. Ek het alleen gestaan.

Baie kan getuig dat ek die hardste skreeu wanneer iemand iets bereik of net 'n hupstoot benodig om iets te doen.

Ubuntu is mos 'n werkwoord. Ek het myself uitgegiet op soveel mense en langs die pad vergeet ek moet myself ondersteun en vir myself skreeu. Jy kan jou nie leegmaak en op die ou einde niks oorhê nie.

Baie sal woorde gee van ondersteuning en sê hulle is daar vir jou en dit is goed, maar wanneer dit kom by oorgaan na aksie van daardie woorde, kan jy dit vergelyk aan 'n sprokiesverhaal.

Ek weet almal is besig het hul eie lewe, maar met hierdie geval het die woorde "notice who shows up for you when you need them to" soos 'n rolprent afgespeel. Ek was ontnugter in hierdie oomblik.

'n Paar dae ná als het ek geworstel met verskillende vrae. Het ek iets verkeerd gedoen? Het ek te veel verwag?

Dié les van die lewe het my hele gemoed en manier van dink verander. Ek weet nou waar om die streep te trek met mense.

Al is dit hóé moeilik, moet jy om jou kyk en besef sekere mense is net daar sodat jy hulle kan ophef.

Baie sal sê ek het nou sinies staan en word. Maar jy is verantwoordelik vir jou eie geluk en as iemand jou alewig tap, moet jy besluit of jy dit gaan toelaat.

Al is dit hóé moeilik, moet jy om jou kyk en besef sekere mense is net daar sodat jy hulle kan ophef.

Jy is nie 'n bank wat net kan gee nie, op 'n tyd moet daar iets ingesit ook word. As jy familie en vriende verloor daaroor, laat dit dan so wees, maar genoeg het jy gegee en jouself verloor.

Diegene wat dit verstaan, sal goed wees vir jou, maar moenie toelaat dat jy gemanipuleer word om net te gee nie. Jy mag en kan nee sê.

Ek glo nog altyd in die goeie en om mekaar te ondersteun, maar van nou af sal ek seker maak dat ek eerste na myself kyk. Hande klap vir die goeie en nie myself uitgiet op mense dat daar niks vir myself oor is nie. Onthou, jy is jou eie held, niemand kom om jou te red nie.

  • Coetzee is 'n tweedejaar M-student aan die UWK. Sy fokus is afrofuturisme en Afrikaanse letterkunde.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF? Maar jy wonder hoe dit werk? Kyk hierdie video:

Jerome Coetzee, Uwk

SPELETJIES VANDAG

CTA