
Xsê, kan ons werklik 'n verskil begin maak? Deur bloot die "regte" kruisie te trek by die party wat ons as reg beskou?
Beteken dit ewe skielik omdat 'n nuwe president verkies is, dat al Suid-Afrika se probleme net sal verdwyn? Soos in 'n feëverhaal wat wag om te gebeur?
Ek sal sê g'n manier nie! Ek weet nie van julle nie, maar baie keer as my petrolbegroting dit toelaat dat ek en 'n paar vriende kan rondrits, doen ons dit.
Tydens hierdie rondrits sal ek dink: "Sjoe! Dit is regtig 'n verskriklike mooi land waarin ons bly."
Dan is dit asof die perfekte prentjie in my kop om oorsee te gaan, wegsmelt.
Waar is daar in enige ander land dit wat ons het in ons eie land? Natuurlik kan jy seker braai, maar dan is dit seker "barbeque" en dit voel sommer al klaar nie soos huis nie.
Ek praat onder korreksie, want ek was nog nooit eens in 'n vliegtuig nie, wat nog te sê oorsee.
LEES OOK: 'Ek kies SA bo Europa enige dag!'
Is daar biltong wat net die regte hoeveelheid vet aan het met net genoeg speserye?
Is daar 'n donker, bloue see met 'n kans dat jy rommel sal raaksien veel eerder as die seegediertes self?
Waar mense dakloos is en staan by elke tweede verkeerslig en veg om oorlewing?
Of iemand wat kom bakhand staan by jou motor en jy daardie los R2-muntstuk in jou beursie gee net sodat jy ontslae kan raak van die persoon?
Wat kan jý doen?
Ons beskou Suid-Afrika soms as 'n groot kopseer en maak nie saak hoeveel Panado's jy sluk nie, dit word net nie beter nie.
Ek is tog van mening dat die klein goedjies soos wat ek hierbo noem, bloot die dinge is wat Suid-Afrika, wel, Suid-Afrika maak. Sien almal die foute raak wat ek sien, sien almal die mooi raak wat ek sien?
Gelukkig is ons almal geregtig op ons eie mening en party Suid-Afrikaners is definitief nie op die mond geval nie - hulle voel vry om daardie menings te lug!
Dus sien ek uit na verkiesingsdag, want dit is 'n stap in die regte rigting om wel 'n verskil te begin maak vir 'n splinternuwe Suid-Afrika.
Dus wil Xsê begin om 'n verskil te maak by jouself, in Suid-Afrika, voordat jy daardie kruisie trek, dat jy saam met daardie besluit ook 'n verandering kan bring.
Daar moet na die fynere besonderhede gekyk word. Byvoorbeeld hoe om mekaar te help - nie noodwendig deur ons beursies oop te maak nie.
Daardie sjokolade wat jy geëet het waarvan jy die papier sommer op die grond wil neergooi: Loop die sjokolade so 'n bietjie af tot by die naaste asblik. Los eerder daardie vodkapromosie by Catwalk en wees feestelik vir een aand sonder iets sterk.
Dit klink eenvoudig en vanselfsprekend, maar dis hierdie betreklik eenvoudige aspekte wat ons soms bloot ignoreer wat Suid-Afrika stukkie vir stukkie tot 'n beter land kan transformeer.
Dus wil Xsê begin om 'n verskil te maak by jouself, in Suid-Afrika, voordat jy daardie kruisie trek, dat jy saam met daardie besluit ook 'n verandering kan bring.
- Madeleine Rossouw (21) studeer onderwys aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus.
- Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
- Wonder jy waaroor studente praat?Lees nog meningstukke hier.
- Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
- Volg Die Student op Instagram.




















