Wynberg Boys’ High, die suksesvolste o. 19 A-rugbyspan vanjaar in die WP se suidelike stadsgebiede, het Saterdag in die jongste reeks skolewedstryde behoorlik gebrul in sy kragmeting teen Rondebosch Boys’ High.
Wynberg het, ondanks die triestige omstandighede, die Bosch behoorlik vasgevat en met 43-0 een van die grootste seges behaal in die jarelange kragmeting tussen hierdie twee skole. Boonop het Yaqeen Ahmed (losskakel), wat vir twee van die tuisspan se ses drieë verantwoordelik was, suksesvol pale toe gekorrel en altesame 21 punte vir sy span bygedra.
Bishops, wat geen gelukkige seisoen gehad het nie, het in Nuweland verras deur SACS deeglik te karnuffel en het ’n stewige voorsprong opgebou. Twee drieë kort voor die einde het SACS egter in staat gestel om ’n gelykop uitslag van 18-18 te bewerkstellig.
In ’n sopnat Boland het Robertson op Ceres in sy interskolestryd teen Charlie Hofmeyr hom veel beter by die triestige toestande aangepas en deurentyd die meeste aanvalswerk gedoen. Charlies se voorhoede het hulle wel nie laat vasvat nie, maar Robertson se goeie hanteerwerk tesame met puik verdediging het die besoekers met 20-0 laat seëvier.
Op Bredasdorp was die tuisspan se interskolebotsing met Montagu ’n ewe taai stryd. Dit was egter Montagu se knap tweedefasespel wat deurslaggewend was op pad na die besoekers se oorwinning van 25-22.










