Matrieks

10 A’s vir slimkop van St. Benedict’s College

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Thashil Mistry, wat verlede jaar met tien onderskeidings aan die St. Benedict's College in Bedfordview gematrikuleer het, hoop om vanjaar medies te studeer.

Hy wag nog om te hoor by watter universiteit hy aanvaar is om sy droom te verwesenlik.

Thashil Mistry Foto: Verskaf/Ross Wilson
Thashil Mistry Foto: Verskaf/Ross Wilson

Thashil het onderskeidings in al sy vakke - Engels (90%), Afrikaans (94%), inligtingstegnologie (96%), lewensoriëntering (95%), lewenswetenskap (87%), wiskunde (96%), fisiese wetenskap (92%), verdere studie statistieke (82%), verdere studie kalkulus (81%) en verdere studie Engels (82) - gekry. Sy gemiddelde is 92,86%.

Hy was ook verlede jaar die dux-leerling.

Hy het die kollege-beker vir die beste Afrikaanse leerling, kollege-trofee vir gevorderde wiskunde, die Whelan-beker vir fisiese wetenskap en die Jason Robinson-gedenktrofee vir inligtingstegnologie ontvang, wat aan 'n leerling toegeken word wie se kreatiwiteit in programmering en entoesiasme vir die vak uitstaande is.

Hy was ook die ontvanger van 'n magna cum laude-baadjie - een van net vier wat dit al ontvang het - en het erekleure in redenaars en senior akademiese volkleure ontvang.

Vir diens en toewyding aan die ideale van sint Benedictus het Thashil die Biskop Orsmond-skild ontvang en die Serafino-trofee, wat aan die leerling toegeken word wat die hoogste gemiddelde in drie vakke behaal het.

In sy vrye tyd speel hy waterpolo en hokkie, en is lief daarvoor om met sy rugsak te gaan stap. Die bewaring van diere lê hom ook na aan die hart.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM